Abrie sit die Brie in Kaas
Brood, wyn en kaas is saam, en individueel van die lewe se grootste plesiere en deel een gemeenskaplike faktor.
Hulle word almal geproduseer deur ‘n proses van fermentasie. Brood rys in ‘n pan, en wyn verouder as gevolg van die reaksie van die gis en suikers.
Kaas, soos toorkuns, verskyn uit ‘n pot melk as gevolg van die reaksie van bakterie op laktose (melksuiker).
Kaas is een van die oudste kosse wat vandag nog geniet word en dateer van ongeveer 900BC.
Kaasmaak is beide ‘n wetenskap en ‘n kuns en bied groot uitdagings.
Met ‘n Jersey kudde wat se melk uitsekend is vir kaasmaak het die Van Wyk egpaar, Abrie en Brenda, besluit om hierdie uitdaging aan te pak.
Hulle het sewe jaar gelede begin, en wat aanvanklik ‘n stokperdjie was, het nou in ‘n sake-onderneming ontwikkel.
Die “Farmhouse” (hul besigheidsnaam), onderskei hulle van baie ander kaasmakers, omdat hulle eksklusief van hul eie melkproduksie gebruik maak en nie melk aankoop nie. Sodoende word die kwaliteit van die kaas verseker.
“Ons het van die begin af besluit om slegs Hollandse kulture en speserye te gebruik en koop dit aan van ‘n maatskappy wat dit eksklusief invoer”.
Die twee bepalende faktore tot suksesvolle kaas is die kwaliteit van die melk asook die kulture.
Die proses van kaas maak, begin met roumelk wat verhit word en dan word die kulture bygevoeg.
Die melk staan ongeveer een uur om ryp te word voordat stremsel bygevoeg word wat sodoende dan die melk laat stol.
Daarna word die kaas gesny en geroer en weer verhit en dan, afhangende van die kaassoort, word dit gewas en in vorms geplaas om gepers te word.
Na persing word dit verskuif na ‘n soutbad, waarna dit afgedroog word en met ‘n teen-fungus kaasverf geverf word.
Die kaas word ten minste drie maande laat rus, maar elke dag omgedraai sodat dit eweredig kan ryp word.
Abrie en Brenda is onlangs vereer met ‘n tweede en derde plek tydens die 2014 SA Suiwel Kampioenskappe met hulle Robiola, ‘n sagte gebottelde Italiaanse styl kaas.
“Ons lewer kaas af op bestelling en mense kan gerus by Ginellis en Hoffmann’s aanklop vir ons produkte,” sê Abrie.
Hulle maak tans Robiola, Feta, Gouda, Gerookte Gouda, Raclette, Mozzarella, Halloumi, Provolone en ‘n verskeidenheid spesialiteits-kase.
Belangstellendes kan Abrie of Brenda bel. Abrie: 083 631 4972 of Brenda: 083 642 5732.



