Gestroopte renoster gevind
’n Vierjarige renosterbul is verlede Donderdag op die plaas Rooiboskloof, wat aan die Groblersdal dorpsgebied grens, dood aangetref.
Die renoster het aan Dawie van Staden behoort. Mnr. Van Standen het gesê het dat hy die dier vir ongeveer twee weke lank nie gesien het nie.
Daar is verlede week met ’n helikopter na die renoster gesoek, waarna hulle hom dood en verrrot met sy horing afgesaag gevind het.
Mnr. Van Staden het Maandag ’n saak van wildstropery by Groblersdal polisiestasie geopen. Hy het Donderdagoggend aan die Daller gesê dat hulle nog op soek is na ’n tweede renoster.
Hy het wel spore van die dier gekry maar kon die renoster self nog nie onder oë kry nie.
Volgens a/o Stanley Magaela, polisie woordvoerder, is die renoster se horing netjies afgesaag.
Die stropers is weg met die horing van ongeveer R400 000. Hy sê dat hulle van plan is om mnr. Van Staden by te staan met die soektog na die tweede renoster.
Nog geen arrestasies is rakende die saak gemaak nie.




One Comment