EntertainmentLifestyleLocal newsNews

Maak reg vir Cefas

Stoffberg is besig om sy vere reg te skud vir die jaarlikse Cefasfees wat oor Paasnaweek gehou gaan word.

Die ou OTK perseel sal van 18 tot 20 April in ‘n miernes van bedrywighede omskep word waarin gelowiges intiem met die Skepper kan verkeer, wat ookal hulle voorkeur is.

As jy wil dans en sing gaan na die Worship verhoog. Miskien verkies jy om na ‘n meer intieme getuienis te luister.

Of jy wil dalk saam met die manne, weg van almal anders, jou God aanbid.

Die reuse interkerklike konferensie bied sewe afsonderlike bedienings.

Die manne, vroue en jeug het almal hul eie area waar daar net op hulle gefokus word. Verdere bedieningsaspekte is Kuns en Toneel, Getuienis, Bediening en Leringe en Aanbidding.

Die afsonderlike areas sal van 10:00 tot 18:00 regstaan vir feesgangers waarna die hoofvertoning van 19:00 tot 23:00 plaasvind by die hoof verhoog.

Groot name soos Joe Niemand, Danie Botha en swemmer Lyndon Ferns gaan skouers skuur met plaaslike kunstenaars. Meer as 100 kunstenaars, sprekers, Christelike flieks en bedienaars sal tydens die geleentheid optree.

Buiten vir die fliekteater gaan ‘n haarsalon en fietsrywedren hierdie jaar deel van verrigtinge uitmaak.

Jy mag dalk wonder wat ‘n haarsalon met die hele affêre uit te waai het. Word bedien met die Woord van God terwyl jy jou hare laat doen.

Praat van twee vlieë met een klap!

Die fietsrywedren, aangebied in samewerking met die Middelburg Fietsryklub, bied ‘n geleentheid vir families om iets saam te doen.

Op 19 April kan fietsryers deelneem in een van vier afdelings wat wissel van 65km tot 5km in afstand. Die 65 km baan is uitdagend en beslaan verskillende terreine waaronder bergagtig, nat, gras en grondpaaie.

Kry die registrasievorms op die webblad www.cefas.tv/fietswedren. Bel vir Harry van Rensburg by 078 330 9895 vir meer inligting.

Kaartjies vir die Cefas naweek beloop R100 per persoon. Dit kan aanlyn by www.cefas.tv of by die hek gekoop word. Daar is ‘n kampeerterrein beskikbaar met ablusiegeriewe wat warm water storte insluit.

Al wat dit jou uit die sak gaan jaag is R50 per voertuig vir die hele naweek.

Vir meer inligting oor die fees of vir alternatiewe verblyf in die omgewing kan jy op die webblad gaan loer.

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button