Editor's choice

Flopsport

•Sien die Kaap is vol plakkate wat lees: "Marnitz Boshoff, jou lekke ding!"

•Die bal was nog oppad pale toe, toe Crous uit die Kaap sms: “Wat ‘n lekker droom”. (Die ergste is dat ons vir ‘n jaar sal moet hoor hulle is die Curriebeker kampioene).

•Hy was skaars by die Pumas, toe wen Henning Gericke die Sailbeker teen ‘n sterk Blou Bulle span. In 2007 verloor hy in die doodsnikke saam met die Haaie die Superreeks, die volgende jaar wen hy saam met die einste Haaie die Curriebeker, saam met die Bokke die Wêreldbeker en nou weer saam met die Wiepie die Curriebeker. (En steeds dink die wyses daar naby die Hotel 224 hy kan geen bydrae lewer nie).

•Dolf Rossouw het waarskynlik iets met Boshoff se miskorrel te doen. Dolf was bekend dat hy langs die veld gevra het: “Kyk net na sy hakskene, kyk net na sy hakskene” en dan is die maklikste skop mis.

•Verneem ‘n plaaslike Visvoet het ‘n nuwe truuk probeer: Hy het sy whiskey glas elke keer skuins gedraai in die rigting waar die bal verby die pale moet gaan en dit het gewerk. (Ag nee man, mens kan nie so met drank mors nie).

•Die Boshoffs is nogal bekend vir hulle mis korrel. ‘n Paar jaar terug het boetie, Ruan, reg voor die pale misgeskop. Middies het danksy die flater die wedstryd gewen en ‘n sterk Nelspruit span uitgeskakel.

tann_611725926

•Boshoff se skop het net soos die van Jack van der Schyff gewoer-woer. Van der Schyff het in 1955 teen die Britse Leeus op Ellispark ‘n doelskop gemis, wat die Leeus met 22-23 laat wen het. Hy het nooit weer vir Suid-Afrika gespeel nie.

•Kan iemand Boshoff kwalik neem? Lê jy aan pale toe en veertig duisend oopbêk Kapenaars boééé aanmekaar en jy moet in hulle se bêkke vaskyk! Toe!

•Dis nie mooi nie. Vertel Donderdagaand vir skoolhoof Riaan, gaan maar Saterdag in die tuin werk, tydens die eindstryd. Seg hy: “Jy gaan seker die daisies natmaak?”

•Draf Saterdag deur Randfontein se strate, Leeuwêreld. Soos die manne met hulle V6 en brannas tussen die bene verbykom, laat waai met: “Próóóvince!” (Het jy al gesien hoe hardloop ‘n bul vir ‘n leeu weg?).

•Word daar altyd beskuldigende vingers na die Blou Bulle gewys “wat spelers koop”. Die Westelike Provinsie het die Curriebeker gewen met eks-Leeus wat al hul punte aangeteken het, en die Kaapse Griek, Demetri Catrilisis, is ‘n voormalige leerling aan St. John’s College in Johannesburg.

•Sê iemand noudat groot Kevin de Klerk gereeld die Leeus bemark. Wie is die Bulle se president? Nee, weettie. (Is dit nie Piet iets nie?).

•Solank Barend Niks Is Verkeerd Vergaan en sy Anomieme President, plus Frans Ludeke en Piet Rossouw bly glo “hulle is op die regte pad” sal skitterende jong Bulle ander weivelde gaan soek. En Johannesburg is nie ver nie.

•Die DBV kan bly wees Oom Jan Botha lewe nie meer nie. Sal hy darem vir jou gal afgegaan het, noudat hulle wil sê die wedvlugduifies word gemartel.

•Op die dorp loop daar ‘n kwaai tannie met ‘n krieketbal rond. Ons het na die Cravenweek genoeg gehad van Leeuloop, anders kon Robbie Wessels gesing het van “krieketballe wil sy hou!” Tegnies se groot slaner, Daniel Griesel, het ‘n bal oor John Magagulastraat geklits wat die tannie se kar getref het. Sy het die bal opgetel en ondanks die spelers se smeking, verseg om dit terug te gee. (Wonder of die tannie en haar man elke middag in die tuin krieket speel?).

•Nou waar was die rooi helikopter Saterdag? Die Rooies het in ‘n belangrike krieketwedstryd teen Monnas gespeel, maar toe hulle Saterdagoggend by die veld kom, was die baanblad sopnat. Die wedstryd is na ‘n nat Kees Taljaard verskuif, waar die versugting was: “As ons net ‘n helikopter kan kry om die blad droog te waai!”. (Nouja, die helikopter het weggebly, die Rooies het die loot verloor en hulle is uit die liga geboender).

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button