Editor's choice

•“He shot me down bang-bang. I hit the ground bang-bang...” En daar sak skeidsregter Alex Jonker (23) Saterdag inmekaar op die maat van Nancy Sinatra se trefferliedjie. Wie ookal so vinnig aan die liedjie gekom het is skerp, baie skerp. (Nuus uit die kleedkamer is dat die jong skeidsregter net ’n spier beseer het en weer op die been is, bang-bang!).

•Wie het die sangstryd Saterdag gewen? Die 1982 oudleerlinge of die klas van 2014? Vir die 1982 groepie, wat vanjaar vyftig jaar oud word, moes die HTS Middelburg oorwinning soet gewees het. In 1982 het ’n sterbelaaide Rooies span met 10-4 teen Middies verloor.

•Spog iemand hy het al die pad van die Kaap af kom kyk. Loop na die tyd in Okkie Vermaak vas, wat jare terug by Hoërskool Kanonkop skoolgehou het, maar al twaalf jaar in Engeland bly. Enigiemand wat verder as Londen gekom het?

•Kinders, wafferse hond het Saterdag so geblaf oor die luidsprekers? Pitbull oom, Pitbull!

•Nee kyk daar is groot gegaan. Twee rooi helikopters wat hulle verf afskraap teen die regoppaal, seuns in wit en rooi lakens, ’n drom wat doef-doef én Justin Bieber.

•Vrydagoggend bel ’n tannie “oor die helse ongeluk iewers in die dorp”. Toe nie ’n ongeluk nie, maar die twee skole wat optog hou. Die Rooies s’n het seker twee kilometer ver gekrul met ’n brandweerwa tussenin. Sê iemand: “Ja, dis onregvredig, want waar kry jy nou soveel groen karre op die dorp?”

•Dis nog niks, waar kry jy twee groen helikopters?

•Een ou was so verstom toe hy drie perde in die Rooies se optog sien dat hy uitgeroep het: “O, f!&!^ hier kom die perde!” (En pasop wat jy sê, want toe word die hele fffffff… op videokamera opgeneem).

•Daar langs die Dveld Saterdagoggend met die Dou nog Dik, speel die VierDe spanne teen mekaar. En net so ernstig soos die eerstespanne die middag was, so ernstig is die vierdes. En die man in beheer is Alex Strydom, die Rooies se eerstespan afrigter. Middies se vierdes afrigter is die hoof van Middies, mnr. Johan Stronkhorst. Dis mos nou rugbymanne in murg en been.

•Waar was die trompoppies? Moes elke jaar vir een omie ’n hoogtepunt gewees het, want toe die aksie verby is, vra hy virrie tannie: “Nou waar was die trompoppies, waar was die trompoppies?”

•Omo het vir die Rooies uitgedraf en mens het verwag, toe ’n aankondiging oor die luidsprekerstelsel kom, hulle sou soek na ’n seun met die naam Surf, maar toe is dit Slang.

•Eet vroeg ontbyt by Wimpy, loer met die linkeroog na die televisiestel en praat terselfdertyd met die ander mense. Sien hoe word ’n Crusader getrap, rooikaart, wedstryd verby. Saterdag mompel iemand op die pawiljoen die Sharks het gewen. Gewen? Onmoontlik!

•Ry verby Willie Haai se huis Saterdagmiddag terwyl hy besig is om gras te sny. Sien die man hou met sy linkerhand die handvatsel vas, terwyl sy regterhand gebal in die lug is. Toe geweet die Sharks moes gewen het.

•David het sy Moses teëgekom by Manchester United. Hoop net nie Louis gee ondersteuners Gal nie.

•Nou is dit ook koebaai Bangalore in die IPL.

•Op ’n Dinsdagaand, wanneer oupa sy se kombersie oor die bene gooi voor die kaggelvuur, speel Laerskool Middelburg en Laerskool Staatspresident C.R. Swart in hulle eie Classic Clash. Kaalvoet in die koue.

•Wil nou nie met iemand die draak steek nie, maar lank-lank gelede met ’n Classic Clash was daar ’n groen draak langs die veld by Middies, dit was die jaar van die groot wind en toe word draak se kop van sy lyf gewaai. Van daardie tyd af noem jy nie die woord “Draak” in ’n 500m radius van die skool nie. Saterdag praat ouers, oudleerlinge, huidige leerlinge en toekomstige leerlinge van “Tegnies” op die pawiljoene. Maar dis ’n woord wat ook deesdae nie op enige plek op die dorp gebesig mag word of in ’n koerant mag verskyn nie, dis nou net HTS Middelburg, Hoër ? Skool Middelburg!

•Kan ons nie elke week Classic Clash hou nie?

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button