Bejaarde val in mangat
Terwyl sy as Jehova getuie Woensdagoggend besig was om velddiens te doen, het 'n bejaarde vrou in 'n mangat by Van Blerkplein geval.
Me. Marie de Koker (78) sê sy was besig om ‘n man in die parkie te vertel “oor die wêreld se toestand.” Toe sy omdraai was daar skielik nie meer grond onder haar voete nie en was sy halflyf in ‘n oop mangat.
‘n Man het haar eers uit die gat uit probeer trek, maar me. De Koker het ‘n fel pyn in haar linkerskouer gevoel.
Met die hulp van haar vriendin, Rachel Smit, het hulle haar versigtig uitgehelp.
Me. De Koker het erge pyn gehad en het saam met haar vriendin na ‘n nabye spreekkamer gestap.
Vandaar is sy verwys na die Life Midmed Hospitaal waar gevind is dat haar skouerpotjie ontwrig is.
Dit moes onder narkose teruggesit word. Sy het ook blou kolle en kneusings opgedoen.
Sy is dankbaar dat sy nie bene gebreek of ander ernstiger beserings opgedoen het nie.
Volgens haar doen sy ten minste drie keer per week velddiens in Van Blerkpark en die gat is al vir meer as ses maande oop. “Ons het al verskeie kere vir die werkers op die terrein gesê dat hulle die gat moet laat toemaak.”
• Met die Observer se aankoms Woensdagmiddag by Van Blerkpark was die gat reeds toegemaak en ‘n sperband om dit gespan.
• Presies ‘n jaar gelede het me. Linda Joubert haar enkel gebreek toe sy in ‘n oop mangat voor die poskantoor geval het.



