Video: My Beurt: Tobie van den Bergh
Die wonder van ’n kleinkind, x2. Twee bondeltjies wat soos voëltjies sonder vere daar lê.

En jy wonder: Hoe gaan hulle ooit groot word?
En dan word hulle groot.
En jy word weer klein.
Daar is baie drukkies, soentjies en bederf.
Die woord “nee” verdwyn uit jou woordeskat.
Kuiertyd word die sitkamer ’n speelkamer.
Wat by oupa gebeur bly by oupa.
Hulle begin praat. Eers mompelend en dan aanmekaar.
“Oupa” word die mooiste woord op aarde.
Sê een oggend op pad skooltoe vanuit die karstoeltjie: “Ek wil by my oupa en ouma gaan kuier.” Vra hulle mamma: “Hoekom?” Kom die antwoord so spontaan en opreg: “Want ek is lief vir hulle!”
Jy moet daar waar jy in ’n hospitaalbed lê vir ’n klein operasietjie hoor: “Ag nee oupa, hoekom trek jy ’n dogtertjie broekie aan?”
En jy weet Lianke skinder, toe hulle Vrydagaand opdaag en boetie Calvin vra: “Waarom het oupa ’n dogtertjie broekie aangetrek?”
(Seker nie so erg soos die ou wat verlede week vertel hy het gedink die groen hospitaal onderbroek is ’n mussie nie, tot groot vermaak van die verpleegsters).
Praat jy met sussie oor die selfoon, durf mamma dit nie waag om nie vir boetie ook ’n kans te gee nie. Daar word blou moord geskreeu: “Ek wil ok met my oupa praat!”
Kersvader moet gereeld gebel word: “Ek soek ’n trein, ’n blou een en sussie ’n pienk ene”.
Oupa se aanhoudende koerantlees fassineer hulle: “Waarom lees oupa so baie uit die groot papiere?”.
Later moet jy hoor hulle praat van “Oupa koerant”.
Trots sit jy by die eerste skoolkonsert.
Die gordyne gaan oop en vier pare ogies soek na oupa en ouma.
Dan weergalm dit deur die saal: “Daar’s my oupa!”
Ons spuit mekaar nat, ons maak saam vuur, ons eet skelm sweets, ons ry met bootjies op die Dennesig dammetjies, ons eet roomys, ons lag baie.
En ons gaan saam kerk toe.
Sondagoggend staan die nagmaalkelkies voor in die kerk toe ons instap.
Vra die driejarige Calvin: “Wanneer drink ons van Liewe Jesus se bloed?”
(Vrydagaand se sitkamer kleinkind chaos kan op www.mobserver.co.za gesien word).



