Sesjarige inspireer ystervrou
Sy kom oor die weg met 'n loopraam, maar sy inspireer selfs 'n atleet wat aan die ystermankompetisie deelneem!
Klein Zeldine Husselman is klaar ‘n Koedoekop in murg en been en al kan sy nog nie soos haar maatjies rondhardloop pouses nie, wil almal graag met dié vrolike dogtertjie maatjies wees.
Zeldine het al op nege maande begin stap en haar ma, Dominque, het dadelik onraad vermoed toe sy op 15 maande skielik nie meer kon loop nie en weer begin kruip het. Later kon sy net lê. Hordes toetse later het bepaal dat hul baba Gullain Barré sindroom (‘n siekte wat onder andere die spiere aantas) het.
Vanaf die eerste dag wat Dominique en Bernard gehoor het hul dogtertjie gaan nie soos ander kinders kan rondbeweeg nie, het hulle die besluit geneem: “Ons sal haar soos enige ander kind van haar ouderdom grootmaak!”
‘n Paar veranderinge moes wel volg, soos om die huis meer toeganklik te maak, maar Zeldine, het soos haar ouers, elke struikelblok positief aangedurf.
En op 13 Januarie vanjaar het sy saam met al die ander graad een’s van Laerskool Middelburg die verwelkomingsklok by die skool gelui.
Sy het wel agter in die rytjie gestaan met haar loopraam, maar sy het die klok die hardste gelui om te wys dat sy gereed is vir die ‘groot’ skool.
“Ek is nou groot, ek doen al huiswerk!” begin sy sommer gesels. “En as ek groot is, wil ek ‘n tandarts word.”
Die Husselman-egpaar sê niks kry vir Zeldine onder nie en sy werk hard om eendag sonder haar loopraam of krukke klaar te kom. Buiten oefeninge, swem sy twee keer per week.
Mnr. Husselman se suster, Cindy Husselman, het pas aan die ysterman kompetisie deelgeneem en sy het daarna vir Zeldine se ouers gesê: “Elke keer as ek moeg begin word het, het ek net aan Zeldine gedink en dan het ek weer hernieude krag gekry!”
Hulle weet daar lê nog struikelblokke voor, soos dat Zeldine in graad vier moet begin klasse ruil en die trappe probleme kan skep.
“Niks kry haar onder nie. Sy het die regte attitude. As ons by daardie hekkie kom, sal ons hom aanpak!”
Intussen het die skool dadelik ingespring om Zeldine te akkommodeer, deur vir haar oral by die skool opritte te bou vir die kere wat sy in die rolstoel is. Haar maats stoot haar sommer tot by die speelgrond, waar sy dan dadelik weer uitklim om self oor die weg te kom!
Die besondere band tussen haar en haar kleinboet, Zander (drie) is ongelooflik. “Hy help oral waar hy kan.”
In Februarie moet hulle weer die pediatriese neuroloog by die Unitas Hospitaal gaan sien en hulle kan nie wag om te wys hoe hard Zeldine al haar pa se hand kan aftrap nie.
“Ons wil graag dankie sê vir elke persoon, vanaf Zander tot by ons familie, vriende, personeel en leerlinge van Laerskool Middelburg, wat saam met ons die pad gestap het. Dit was nie altyd ‘n maklike pad nie, maar ons sal dit vir niks in die wêreld verruil nie. Waar daar ‘n wil is, is daar ‘n weg!”




