kykNET, Kwêla, Afgri en Indwe ploeg terug
Die kykNET Kwêla Dorp van die Jaar kompetisie het inwoners weke aan een om die beplanningstafel gehad.
Die harde werk het vrugte afgewerp en Middelburg is gekroon as die 2015 Dorp van die Jaar wenner, en toe makietie ons soos nog nooit tevore!
Maar die makietie is nie al wat die Kwêla span en hul borge vir die dorp gebied het as dankiesê vir inwoners se fenominale wenpoging nie.
Die Middelburg Care Village, Bambanani in Mhluzi en Bethesda Huis vir Gestremdes, het elk ’n allemintige R30 000 van Indwe Risk Services ontvang.
Afgri het ook die hart oopgemaak vir die kinders van die Care Village, en skopfietsies vir die kleinspan, saam met sokker, netbal en rugbyballe vir die groteres gebring.
Afgri skenk ook die volgende drie maande se hondekos vir die DBV.
Frik Bothma van Afgri se Dierevoere het een van die steekbaardjies by die DBV net een kyk gegee en daar vermurwe die hardebaard se hart.
Frik het die brakkie, wat nou Stoffel heet, op die plek aangeneem.
Homebrew Produksies het natuurlik die verfilming van die agt minute insetsel van Middelburg vir kykNET kom skiet, en die verfilming Vrydag voor die makietie.
Dan gee kykNET die dorp R1 miljoen se bemarkingslugtyd op die kanaal.
Kwêla saai volgende week, 7 Oktober, hul program oor Middelburg uit tussen 20:00 en 21:00 op kykNET – moet dit nie misloop nie!
Die dorp spog ook nou natuurlik met die windpomp wat Donderdag ’n permanente staanplek by die burgersentrum gekry het.
Die windpomp is deur Poldaw Industrial geskenk, en opgerig deur mnr. Org Hartman van Werkcorp Windpompdienste, Dompelpompe en Jo-Jo’s.
Mnr. Hartman, wat op alles van Springbok tot Climax windpompe werk, sê die windpomp is toevallig ’n baie belangrike faset van Middelburg se landbousektor, en derhalwe is die Kwêla logo perfek vir die dorp.
Die spesifieke windpomp is getoets in windtonnels met windsnelhede van 200km/ph – “hy’s hier om te bly!” sê Org.
Video: Frewin’s got that voting for Middelburg fever!
Video: Middelburg Kwêla dorp van die jaar!
Vote, Vote, Vote for Middelburg town of the year!
Video: Optog deur dorp van die jaar!





