Local newsNews

Verdrink op braaidag in dam

Vyf kinders moes op nasionale braaidag op die oewer van die Tweelingdam op Arnot staan en kyk hoe hulle oom stadig onder die water verdwyn.

Mnr. Riaan Viljoen, wat op 18 Oktober sy 40ste verjaardag sou vier, se liggaam is die volgende dag gekry, kort nadat polisie duikers die water in is.

Mnr. Viljoen het die dag saam sy suster se dogter, haar man en hulle vyf dogters by die dam gaan uitspan.

Hy het saam met die gesin in ‘n huis in Steve Bikostraat, Dennesig, gewoon.

Mnr. Viljoen was gek oor visvang, en planne om nasionale braaidag by sy huis in Steve Bikostraat te vier, het vinnig verander toe die kinders wou dam toe, toe hy die idee opper.

Hy het vir elkeen ‘n visstok gaan koop en hulle gehelp om hul lyne nat te kry.

Nadat die sinkers geval het, het hy saam met een van die kinders na die oorkantste damwal gestap, om met hengelaars daar te gaan gesels.

Mnr. Viljoen, wat gereeld poetse vir sy familielede gebak het, het vir die mense oorkant die dam vertel dat hy sy geselskap ‘n streep gaan trek.

Die volgende oomblik het hy ten volle geklee die dam ingestap en na die anderkant begin swem.

‘n Ooggetuie sê dat mnr. Viljoen op ‘n stadium om hulp geroep het, maar dat sy familie gedink het hy bak hulle ‘n poets, omdat hy dit glo al vantevore gedoen het.

Hy het egter meer gereeld onder die water begin verdwyn, en vir langer onder gebly.

Toe dit duidelik word dat hy werklik in die moeilikheid is, het die kinders se ouers, en ander kuiergaste ingespring en geswem na waar hulle hom laas gesien het.

“Dit was egter chaos, en almal het geskreeu ‘nee links, nee regs, dieper, soontoe’ maar hy kon nie gevind word nie,” het ‘n ooggetuie aan die Observer vertel.

“Sy veiligheidstewels was nog aan sy voete toe die polisie hom uit die dam trek,” sê die ooggetuie.

Die polisie is ontbied en ‘n soektog is van stapel gestuur, maar is afgelas toe die donker sak.

Duikers was om 09:00 Vrydag weer by die dam en ‘n opsporingshond is met ‘n boot die dam ingeneem.

Hulle het gesoek in die omgewing waar die hond aangedui het, en so op mnr. Viljoen se liggaam afgekom.

‘n Familielid, wat anoniem wil bly, sê mnr. Viljoen het vantevore ‘n hartaanval gehad, en dat dié moontlikheid nie uitgesluit kan word nie.

Daar word egter nog gewag op die uitslae van die nadoodse ondersoek om die oorsaak van sy dood te bevestig.

Mnr. Viljoen was werksaam op Arnot as Eduardo Construction kontrakteur vir Steinmüller.

Kollegas het hom ook beskryf as ‘n grapkas vir wie poetse bak ‘n stokperdjie was.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button