CrimeLocal newsNewsUpdate

Opvolg: ‘Skelm Naas’ en sy stories

Naas van Heerden, wat homself ook Natie of deesdae Isak noem, doen mense sover as Brits in met sy mooipraatjies.

Op verstommende wyse swerf en bedrieg Naas mense van heinde en verre. Want “wat is ‘n paar honderd rand dan nou vir ‘n ryk besigheidsman,” soos wat hy voorheen verontwaardig gevra het.

‘n Ontstoke Nellie (van onbekend) het vanuit Brits gebel, nadat Naas sowat twee maande gelede R3 000 uit haar bejaarde ouers het.

Hy en nog ‘n man, Gert Rossouw, het glo onlangs in Brits kontak met haar pa gemaak, wat by ‘n besigheid werk wat sleepwaentjies uitverhuur.

Daar het Naas vir hom ‘n lang verhaal vertel van hoe hy skape van Middelburg na sy plaas naby Brits moet skuif.

Naas van Heerden word vir die soveelste keer daarvan beskuldig dat hy geld uit mense kry met liegstories.
Naas van Heerden word vir die soveelste keer daarvan beskuldig dat hy geld uit mense kry met liegstories.

Die waentjie met skape “het langs die pad gestaan nadat hul bakkie gebreek het”.

Met slimstories het Naas vir homself en Gert slaapplek en ‘n bord kos by die man en sy vrou los gepraat. Hy het Gert as sy plaasbestuurder beskryf.

Gert, wat ‘n taxibesigheid in Middelburg bedryf, is glo deur Naas betaal om hom Brits toe te neem.

Hy sê dat hy niksvermoedend buite in die voertuig gesit en wag het, terwyl Naas vir hulle losies gereël het. Naas het weer aan hom gesê dat hulle die aand by jarelange vriende van hom gaan oornag.

Die eerste bedrag is deur die bejaarde egpaar aan Naas gegee nadat dit glo R1 800 sou kos om sy bakkie weer reg te kry en hy nie sy beursie by hom gehad het nie.

Daarna het Naas telefonies weer met sy weldoeners kontak gemaak en het nog R1 300, wat sommer in sy bankrekening oorbetaal is, uit hulle uit.

Dit was eers toe Nellie van die affêre te hore kom, dat sy begin onraad vermoed en verder ondersoek ingestel het. ‘n Vinnige internetsoektog het die Isak van Heerden, wat by haar ouers tuisgegaan het, met Middelburg se swendelaar ‘Skelm Naas’ verbind.

Haar pa het hom op ‘n foto, wat saam met vorige berigte gepubliseer is, herken.

Nellie het begin rondbel en by Gert uitgekom. Gert was so ontstoke toe hy hoor van die geld, dat hy gery het om Naas te gaan konfronteer.

Hy het egter aan die kortste ent getrek toe ‘n geveg tussen hom en Naas kortgeknip is, nadat ‘n vriend van Naas hom glo met ‘n pyp oor die kop geslaan het.

“Ek bedryf ‘n taxi. Ek kan nie bekostig dat iemand soos Naas my besigheid skade aandoen nie. Dit is hoekom ek so kwaad vir hom was.”

Naas het telefonies aan ‘n joernalis by die Middelburg Observer gesê “pasop vir jou want ek raak nou dik vir jou stories.”

Hy het gesê dat die situasie tussen hom en die mense in Brits “uitgesorteer is”.

By navraag het Nellie gesê dat sy hom tot Woensdag, 26 Augustus, gegee het om die geld terug te betaal anders gaan sy polisie toe. Naas het uitstel gevra tot 1 September.

“Ons sal nou maar sien of hy die geld oorbetaal,” het Nellie skepties gesê.

• Naas van Heerden het al honderde rande op ‘n slag uit talle mense in Middelburg. Hy word ook daarvan beskuldig dat hy op ‘n slinkse manier die voertuig van Paul Swart op sy eie naam geregistreer het.

Hy het destyds in ‘n brief vertel dat die familie die voertuig vir hom gegee het, omdat hy so baie herstelwerk daaraan moes doen.

Die familie Swart ontken dit maar kon tot op hede nie daarin slaag om ‘n kriminele saak te open nie, omdat die eienaar van die voertuig, Paul Swart, onbevoeg verklaar is.

Naas het in dieselfde brief gesê dat hy nie gesteel het nie.

Lees vorige stories hier:

Naas nou in eMalahleni

Weer Naas van die plaas

Natie kom kuier by koerant

‘Ek het niks gesteel – was in nood’

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button