Video: Blou-aap in boom geskiet
Die blou-aap wat Woensdag byna heeldag in 'n boom voor die Stellenberg Woonstelle gesit het, moes geskiet word.
Die dier se brein sal weggestuur word vir toetse vir hondsdolheid.
Mnr. Roelof Jackson vertel dat hy die aap omstreeks 12:00 in die boom voor die woonstelle opgemerk het.
“Ek wou hom vang, maar toe kom hy vir my!” het mnr. Jackson gesê. Die aap het uit ‘n kleiner boom gespring, mnr. Jackson gestorm en in ‘n baie hoër boom geklouter.
Polisiemanne, veearts dr. Reinach Erasmus, die DBV en personeel van die Mpumalanga Toerisme en Parke-Agentskap het teen 17:00 besluit om die dier vankant te maak.
“Hy was ‘n gevaar vir homself en die mense,” het senior inspekteur Petro Oberholzer (DBV) op die toneel gesê.
Adj. Ignus Lombaard het die aap met ‘n .22 geskiet. Die oomblik toe die dier op die grond val, het hy ‘n laaste paar stuiptrekkings gegee en het dr. Erasmus die genadedood inspuiting gegee.
• Insp. Oberholzer het Donderdagoggend gesê dat die dier se brein reeds deur die staatsveeartskantoor verwyder is, om weggestuur te word na Onderstepoort om te toets vir hondsdolheid.
• Dr. Leon Connoway (veearts) het tydens ‘n onlangse onderhoud aan die Observer gesê dat die tipiese tekens van hondsdolheid is wanneer ‘n wilde dier mak word (in ‘n woongebied na mense toe kom) en ‘n mak dier skielik wild of aggressief word.



