Video: Motorfietsryer tref taxi
'n Jong motorfietsryer ag homself gelukkig dat hy 'n ongeluk Vrydagaand oorleef het.
Vogin Johnson (22) was teen laat hierdie week nog in die Middelburg Hospitaal waar hy behandel word vir vog op die brein. Hy ag homself gelukkig dat hy nie erge beenbreuke opgedoen het nie.
Vogin en sy neef, Pieter Groenewald (25), het omstreeks 18:00 afgery met hul twee motorfietse in Cowen Ntulistraat oppad na Vogin se ma, Yvette Visagie, se huis. Die huis is reg oorkant die ou KFC geleë. Weens die middelman moes hulle verby die huis ry en, soos gewoonlik, onder by die verkeerslig (naby Autodoctor) gaan draai.
Reg oorkant me. Visagie se huis, het ‘n taxi egter skielik vanaf die teenoorgestelde rigting voor hulle ingedraai na Rivierstraat. Volgens Pieter het Vogin, wat net ‘n klein entjie voor hom gery het, nie kans gehad om te rem nie en het die taxi getref. “Sy kop en linkerkant van sy lyf het die grootste impak gekry!”
Pieter se motorfiets het Vogin se motorfiets skrams agter getref.
Die taxibestuurder het uit sy voertuig gespring en begin weghardloop. Pieter het hom ingehardloop en platgetrek.
Me. Visagie sê sy het die slag gehoor en na buite gehardloop. “Ek het aanvanklik gedink dit is Pieter wat in die ongeluk was, maar toe ek sien dit is Vogin, was ek buite myself. Die mense moes my later wegvat en kalmeer.”
Sy het gedink dat Vogin ‘n ernstige oogbesering opgedoen het, want daar was bloed in sy oog. Die bloed in sy oog was egter te wyte aan ‘n diep sny op sy neusbrug, wat erg gebloei en in sy oog beland het.
• Vogin en me. Visagie wil graag die gemeenskap bedank vir hulle ondersteuning.
• Volgens die polisie het die bestuurder van die Quantum taxi nie beserings opgedoen nie.




