Local newsNews

Johnny, ons dorp se boemelaar

Is Johnny Bosman dood of swerf hy iewers in Suid-Afrika rond, waar niemand hom ken nie?

Dit is die tergende vrae nadat Middelburg se bekendste hawelose twee jaar gelede “verdwyn” het.

Inwoners het die afgelope tyd gereeld na die koerant gebel, om te hoor of ons weet waar Johnny is. Nadat nog ‘n hawelose verlede week dood op ‘n sypaadjie gekry is, het die kommerwolke al meer om Johnny se verdwyning saamgepak.

Daar is verlede week begin met ‘n soektog na Johnny, maar dit is so al asof hy van die aardbol verdwyn het.

Johnny was nie sommer so ‘n boemelaar nie, hy was die dorp se boemelaar.

Gebore en getoë Middelburger met ‘n bekende familie en pa, Daantjie, wat ‘n provinsiale skeidsregter was.

Inwoners was somtyds woedend vir Johnny, wanneer hy te veel Zorba gedrink het en dan soos ‘n matroos vloek.

Dan was daar sy hond, Jonathan, wat hy geleer het om toertjies te doen vir ‘n ekstra bedelgeldjie. Daar is gemor dat Johnny die hond verwaarloos en sakke hondekos is gereeld vir hom aangedra.

Toe die hond uiteindelik uitgesit is, het Johnny soos ‘n babatjie by die koerant kom huil.

Een oggend het hy sonder broek en skoene voor die koerantkantore gestaan.

“En nou Johnny?”

“Hulle het al my klere en my skoene gesteel,” het hy met ‘n hartseer uitdrukking in sy oë verklaar.

Het hom vinnig laat aantrek en geld in die hand gestop vir die skoene.

Later kom iemand en vertel Johnny het sy skoene en broek onder ‘n kar buite die gebou uitgehaal en met ‘n groot glimlag weggestap…oppad vir ‘n Zorbatjie.

Dan was daar die dag toe hy erg dronk en deurmekaar ‘n “lift” kom soek het na die plaas waar Deon Booysen vir hom skuilplek gebied het.

Drie ure later se soektog en Johnny wat heeltyd prewel: “Ag Here help my om te onthou, ag Here help my om te onthou!” moes Deon gebel word om Johnny te kom haal.

Maar Johnny was nie sommer so boemelaar nie – hy het die lewe geken.

Nuwejaar 2009 het hy met hond en al by die Volle Evangelie Kerk se nagmaal opgedaag. ‘n Dogtertjie het vir haar ma gefluister: “Ma, kyk daar is ‘n hond in die kerk!”

Johnny het die nagmaalbeker met een diep teug geledig en vir ‘n ouderling gefluister: “Dit was nou lekker!”

Toe verskyn Johnny in die boek: “Hang die redakteur”.

Hy was verskriklik trots en het ‘n getekende boek gekry.

Drie dae later was Johnny terug: “Hulle het my boek gesteel”.

Wanneer Johnny sy bedelgesig opgesit het, het selfs die hardvogtigste hart vermurwe.

Johnny het nog ‘n boek gekry, en nog een, én nog een…

Wonder vandag hoeveel bottels Zorba hy met die winste van daai boeke gekoop het.

Toe kom die inkeer in Johnny se lewe.

Hy word in die Middelburg Provinsiale Hospitaal opgeneem met erge brandwonde “nadat hy deur drie swart mans binne ‘n vuur ingestamp is en byna doodbrand”.

‘n Ander weergawe is dat Johnny so dronk was dat hy self in die vuur geval het.

Inwoners ontferm hulle oor Johnny en hy word na die Swartfontein inrigting gestuur om te rehabiliteer van die drank.

Drie maande later stap hy ‘n nuwe mens by die kantoor in, uitgevat, netjies, skoongeskeer.

Die dorp is trots op Johnny.

Maar dit was nie lank nie of hy is terug strate toe.

Toe hy geld nodig het en ‘n koppie warm koppie vroegoggend, daag hy weer op.

“En nou Johnny?”

Antwoord hy: “Ek is Johnny, en ek is maar net ‘n boemelaar…”.

En nou is Johnny weg, en jy sit wragtag na hom en verlang…

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button