Update: Aiden veg om lewe
Aiden Roberts, die 18 maande oue seuntjie wat op 5 Mei in die swembad geval het by sy huis in Kanonkop, veg nou nie net meer om te herstel nie, sy klein lyfie moet nou ook teen 'n infeksie wat daarin woed baklei.
Ten spyte daarvan is hy steeds nie sterwend soos wat daar gister gevrees is nie.
“Ons het deurgejaag toe hulle die familie laat kom en ons reg gemaak vir die ergste. Maar hy is darem nie so kritiek soos wat ons onsself op voorberei het nie. Alles is nog dieselfde, hy baklei nog, hy het net ‘n infeksie by gekry. Al wat ons nou kan doen is op ons knieë gaan en bid. Dit is al wat vir ons oor is,” het ‘n hoorbare moeg Thys Marais, sy oupa, Donderdag gesug.
Die infeksie wat in Aiden se longe is as gevolg van die swembadwater, het nou ook vermoedelik sy niere aangetas. Hy moes oor die naweek ‘n noodprosedure ondergaan en is tans aan ‘n EMCO masjien, wat help om suurstof in sy bloed te kry, gekoppel.
Sy niere wat nie meer werk nie, het genoop dat daar vroeër die week dialise deur middel van die EMCO masjien gedoen word. As die niere nie self weer aan die gang kom nie, sal Aiden nog ‘n operasie moet ondergaan waartydens daar pypies in sy lyfie gesit gaan word, sodat normale dialise gedoen kan word.
“Ons lewens staan stil. Ek kry daai kinders die heel jammerste. Hulle het nog glad nie gerus nie.”
Intussen hoop die hospitaalrekeninge op. Dit kos meer as R20 000 per dag om Aiden in die hoësorgeenheid te hou.
Daar is ‘n trustfonds gestig om Aiden se ma, Clarise, wat nie ‘n mediese fonds het nie, te help met die rekeninge.
Daar word vandag (Vrydag) ‘n gholfdag ten bate van Aiden gehou by die Middelburg Buiteklub.
Opvolg: Familie hoopvol oor Aiden



