Local newsNews

Waar was Rooies se helikopter?

Die afgelope naweek se Classic Clash tussen Hoërskool Middelburg en die HTS Middelburg was vol naelbyt aksie, rasieleiers en gelukbringers. Een ding het egter hierdie jaar gekort: die gedoep-doep-doep van die rooi helikopter.

Die MHS beheerliggaam, wat verantwoordelik was vir die organisasie, sê dat die registrasie van die byeenkoms vereis het dat enige verbyvlugte verbied word.

Thys de Beer, wat verantwoordelik was vir die veiligheid en organisasie, sê dat die borge vereis het dat dit ‘n lae-risiko byeenkoms moes wees. Sodra die helikopter sy verskyning sou maak, sou die byeenkoms egter as hoë risiko geklassifiseer moes word wat ekstra veiligheid en nooddienste sou vereis.

Burgerlugvaart reëls bepaal dat daar nie nader as 1 000 voet aan die hoogste gebou gevlieg mag word nie.

“Ons was nie jaloers nie, ons het nie probeer snaaks wees nie, dit is bloot wat die wet van ons vereis. Dit is wetgewing wat al in 2010 bekragtig is, maar niemand het hulle ooit daaraan gesteur nie,” sê mnr. De Beer.

Hy sê dat hy in gesprek met beide skole se hoofde was en die wetgewing wat deur burgerlugvaart aan hom deurgestuur is na die Middelburg vliegklub aangestuur het.

“Ek hou ook van tradisies, en die rooi helikopter is ‘n tradisie, maar ek staan met my hande afgekap as die wet sê dit mag nie gebeur nie.”

Pa en seun Nico en Attie van den Berg, wat die alombekende rooi helikopter besit, sê dat hulle dit ernstig oorweeg het om tog maar te vlieg.

“As ons binne die burgerlugvaart reëls sou hou, sou niemand ons iets kon maak nie. Maar ons het toe maar besin en besluit kom ons los die vlieëry. Ons sal Middies wen sonder die rooi helikopter,” skerts Nico.

• Daar was wel ‘n vliegtuig wat sonder toestemming oor die verrigtinge gevlieg het. Die vliegtuig se registrasienommer is reeds aan burgerlugvaart deurgegee, sodat verdere stappe geneem kan word. Dit is nie duidelik aan wie die vliegtuig behoort nie.

Lees nog stories hier:

Video: MHS vs HTS geesvang!

Video: Rooi Bulletjie bloedneus geduik

Video: Groen en Rooi ry deur dorp

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button