Meubeltrok slaan aan die brand
'n Gesin het alles verloor nadat die voertuig waarin al hul meubels en persoonlike artikels gepak was, verlede week aan die brand geraak het.
“Dit is vir my ‘n sensitiewe ding om te vra vir hulp, maar ons het niks! Ons het net die klere aan ons lyf waarmee ons gekom het vir die onderhoud in Middelburg,” het mnr. Pierre Harrison emosioneel gesê.
Die Harrison gesin het voorheen in Middelburg gebly en het weggetrek Gauteng toe. Hulle was baie opgewonde toe mnr. Harrison sy ou werk kon terugkry en hulle weer hier kan kom bly.
Mnr. Harrison het ‘n trok geleen om hul meubels te vervoer en hulle het verlede Dinsdag die terugtog Middelburg toe aangepak.
‘n Paar kilometer voor die Pretoria tolhek het die voertuig aan die brand geslaan. Hulle kon net betyds uitspring, maar moes magteloos toekyk hoe alles wat hulle besit voor hul oë uitbrand.
“Van ons ID-boekies en beursies tot ons meubels het verbrand. Alles is weg! Daar was nie tyd om die sleepwa af te haak nie, die vlamme was te erg. Ons het nie eers ‘n ketel of ‘n kombers nie!”
Mnr. Harrison het gesê enigiets is welkom. Persone wat hulle kan ondersteun, kan hom bel by 073 621 7860.
•Verlede jaar is daar by hulle ingebreek en mnr. Harrison se Toyota Landcruiser is in Middelburg gesteel. Die voertuig is nooit weer teruggevind nie.



