Local newsNews

Vrou sterf in kollega se arms

Wonderpark is Woensdag kort na 13:00 tot stilstand geruk, deur die teregstelling van 'n vrou deur haar vervreemde man in 'n hysbak.

Mnr. Jan Briedenhann, teen wie sy vrou, Tanya-Louise, onlangs ‘n beskermingsbevel verkry het, het doodrustig na die ingang van die Wonderpark kantoorgeboue met ‘n sigaret tussen die vingers ingestap.

Hy het haar na onder gelok met die voorwendsel dat hy ‘n geskenk vir haar het.

Die egpaar sou Donderdag (gister), hul eerste huweliksherdenking vier. Mev. Briedenhann het hom onder ontvang omdat sy moontlik onder die indruk was dat hy haar nie sou leed aandoen in die openbaar nie.

Twee mense was in die hysbak saam met die egpaar, wat besig was om op te beweeg na die administratiewe kantore van die bloeddiens, waar sy werksaam was.

Volgens die ooggetuies was daar geen gesprek tussen die egpaar nie.

In die enkele sekondes wat die hysbak na die eerste vloer beweeg het, het twee skote volgens ‘n ooggetuie geklap. Die derde skoot was eers noodlottig.

Volgens kaptein Khanyisile Zwane het een van die ooggetuies saam in die hysbak gedink dit was die hysbakkabels wat gebreek het, toe mnr. Briedenhann sy vrou in die kop geskiet het.

Toe die tweede skoot binne ‘n oogwink teen sy eie slaap klap, en die hysbakdeure skielik op die eerste vloer oopgaan, het beide ooggetuies uit die hysbak gevlug.

‘n Man, wat toevallig buite die hysbak was toe die deure oopgaan, het ook die skote gehoor en binne die hysbak ingeloer, waar mnr. en mev. Briedenhann beide op die vloer neergesak het.

“Die deure wou skielik toetrek en ek moes spook om dit oop te hou, sodat die hysbak nie na onder beweeg waar lede van die publiek begroet sou word deur die bloedbad nie,” het die man aan die Observer vertel.

Mev. Briedenhann se twee seuns, Juhan (18) en Stefan (17), beide senior leerlinge aan HTS Middelburg, is kort na die tragedie deur ‘n vriendin van Louise saam ‘n reservis konstabel by die skool gaan haal.

Die seuns is na die toneel gebring, waar hulle deur kollegas van mev. Briedenhann en pastoor Callie Joubert by die bloeilokaal ondersteun is.

Die seuns is gekeer om na die misdaadtoneel te gaan en die sentrum is, nadat die liggame uit die gebou verwyder is, gesluit vir die publiek, wat in hul hordes buite Spar saamgedrom het.

Geskokte omstanders het op die toneel rondgestaan.
Geskokte omstanders het op die toneel rondgestaan.

Die tragedie is voorafgegaan deur die betekening van skeidokumente op mnr. Briedenhann.

Polisiebronne op die toneel het bevestig dat ‘n beskermingsbevel deur mev. Briedenhann teen Jan verkry is weens doodsdreigemente.

Mnr. Briedenhann is opslag dood, terwyl paramedici van die staat en ER24 ongeveer ‘n halfuur gespook het om haar lewe te red.

Mev. Briedenhann is uit die hysbak gesleep en ‘n werkskollega het langs haar gaan sit en die bloeding probeer stop, totdat noodpersoneel oorgeneem het.

Tientalle polisiemanne, waaronder senior kolonels, forensiese ontleders en ‘n bussie vol skofwerkers in uniform, het op die toneel toegesak.

Verskeie omstanders het in trane uitgebars toe paramedici die gebou met ‘n leë draagbaar, bestem vir mev. Briedenhann, verlaat het.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button