Video: Seun aangeval met mop
'n Vyftienjarige leerling van Hoërskool Middelburg is Woensdag voor die poskantoor op die hoek van OR Tambo- en SADC strate met 'n mop aangerand.
Armand Terblanche (15) was op pad na sy huis in Ngwakostraat toe hy sien dat ‘n man besig is om sy hand deur een van sy medeskoliere se voertuig passasiersruit te druk en probeer om sy beursie op die sitplek te steel.
Toe hy vir hul roep, het nog ‘n man uit die niet verskyn en Armand met ‘n mop aangeval.
“Toe ek loop toe lag hulle vir my,” het Armand kort nadat hy aangeval is gesê.
Sy pa, mnr. Herman Terblanche, is deur ‘n aanlyn gemeenskaps-kommunikasiegroep van die voorval in kennis gestel.
“As dit nie was vir die kommunikasiegroep nie, sou ek nie eers van die voorval geweet het nie,” het mnr. Terblanche gesê.
‘n Aanrandingsaak is by die polisiestasie geopen.



