Local newsNews

Pad Saterdag gesluit

Die 29-ste Loskop Marathon met Forever Resorts Loskopdam as gasheer, is hier!

Maar duisende pare tekkies op die pad, vereis dat die wiele vir ‘n geruime tyd tot stilstand gedwing sal word vir hardlopers se veiligheid.

Derhalwe sal die N11 om 05:00 by die Dennesig-ingang in Middelburg summier vir verkeer gesluit word.

Dieselfde geld vir die roete van Groblersdal af wat by die Damwal winkelkompleks gesluit sal word.

Volgens marathon organiseerder, mnr. Hein Koch, sal die pad agter die laaste hardloper oopgemaaak word.

Dieselfde geld egter nie vir die roete vanaf Groblersdal nie, en motoriste sal alternatiewe weë moet soek, via Stoffberg of Elandslaagte.

Die padbouery op Kranspoort sal volgens mnr. Koch geen invloed op die hardlopers hê nie, hoewel een van die klimbane in die poort, reg teen die krans, gesluit is weens die voorafgaande skietery om die poort te verbreed.

Daar sal geen padwerke wees gedurende die marathon nie.

Diegene wat waterpunte beman, sal soos die atlete en hul gesinne voor die haan kraai uit die vere moet wees, om deurgelaat te word.

Die twee waterpunte bo die poort van Devoetpadkloof, en na die laaste draai van die poort wat deur die munisipaliteit beman word, sal geen invloed op die vloei van atlete deur die poort hê nie.

Die Dallers sal hardlopers op die 21km merk inwag, en die gees gaan hoogty vier soos by al die ander waterpunte wat meeding om ‘n springbokkie op die spit.

Die marathon is jaar na jaar ‘n weergalemende sukses weens die samewerking van die publiek, veral met betrekking tot die padsluiting.

Slegs die tydhouer, marathon beamptes en geakkrediteerde media sal gedurende Saterdag vrylik op die roete kan beweeg.

Die Daller sal vandat die skoot om 06:00 klap, deurlopend nuwe foto gallerye van die aksie op www.mobserver.co.za laai, sodat diegene wat met Jan Tuisbly se karretjie moet ry, ook op hoogte kan bly van gebeure.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button