Video: Hommeltuig byna leeukos
Hoe kry jy 'n peperduur hommeltuig (drone) uit 'n leeukamp as 'n paar besitlike leeuwyfies reeds besig is om aan hom te kou? Jy roep die hulp van Gerrie Gerrits van Pienaardam in!

Dramatiese videomateriaal wys hoe hy aggressiewe leeus met sy viertrek voertuig aandurf om die hommeltuig te red.
Die operateur, wat versoek het dat sy naam weerhou word, sê dat iets verkeerd gegaan het met die elektronika van die hommeltuig terwyl hy besig was om lugfoto’s van Pienaardam te neem. Soos die noodlot dit wou hê, het dit gebeur terwyl die tuig oor die leeukamp gevlieg het.
Dit het ‘n noodlanding in die lang gras gedoen.
“Ons kon op daardie stadium nie die leeus sien nie. Ek het gebel sodat iemand hulle met kos in die klein kampie moet kom inlok en toemaak sodat ons by die drone kon uitkom,” vertel Catrien Muller van Pienaardam.
Nokka, ‘n wit leeu mannetjie, het kort daarna uit die gras gestap, meters van waar die hommeltuig gaan land het.
Mev. Muller en die operateur het duim vasgehou dat die leeu wyfies hom sou volg en die tuig ignoreer. Maar die nuuskierige katte het nie op hulle laat wag nie.
Hulle het met die hommeltuig, wat meer as R60 000 werd is, begin speel en daaraan gekou.
“Ek het gevoel of ek kan huil. Catrien het gehuil. Maar daar was niks wat ons kon doen nie. Die gras was net te lank vir die drone om op te styg,” vertel die operateur.
Sekondes later het mnr. Gerrits op die toneel aangekom. Hy het met sy Mercedes ML die trop leeus aangedruf om by die hommeltuig uit te kom.
Die leeuwyfies was nog glad nie gereed om afstand van hul nuwe speelding te doen nie en het gegrom en geklap na die lastige voertuig wat hul pret kom bederf het. Soos blits het mnr. Gerrits dit reggekry om die hommeltuig op te raap en na veiligheid te neem.
Die hommeltuig se operateur sê dat die rekenaar komponent van die tuig nie beskadig is nie. Die veselglas parte en battery wat wel stukkend gekou is, kon hy oor die internet bestel om die tuig oor die naweek te herstel.
Sondag was Nokka, soos wat die hommeltuig nou heet, weer in die lug.
“Ek het hom Nokka genoem na die leeu wat amper sy einde beteken het.”
• Die operateur met wie daar ‘n onderhoud gevoer is, het versoek om anoniem te bly omdat hy bang is hy kom in die moeilikheid. Hommeltuig wetgewing bestaan nog nie plaaslik nie. Alhoewel dit nie onwettig is om een te besit of aan te koop nie, is dit tans onwettig om een te vlieg. Die feit dat jy enige plek met die tuig kan vlieg laat ook vrae oor die skending van privaatheid ontstaan. Daar is al talle video’s op YouTube gepubliseer van niksvermoedende slagoffers wat kaal sonbaai wat so afgeneem is.
• FC Hamman is aangehou en sy hommeltuig gekonfiskeer toe hy in 2013 buite die hospitaal waar Nelson Mandela vir ‘n longinfeksie behandel is, gevlieg en beeldmateriaal van die massas mense wat Madiba kom voorspoed toewens, geneem het.
• ‘n Hommeltuig is gebruik om die mees onlangse Fast and Furious 7 fliek te help skiet, omdat dit in staat was om die voertuie te volg en tussen hoë geboue te vlieg waar ‘n helikopter nie kon nie.
• Hommeltuie word reeds vir sekuriteitswerk by myne, asook in die geveg teen renosterstroping in die Wildtuin aangewend.
• Burgerlugvaart reëls soos dat daar nie oor beboude gebiede, naby lughawens of oor paaie gevlieg mag word nie, word gewoonlik deur niksvermoedende hommeltuig operateurs gebreek.
• Dit is ‘n handige hulpmiddel wat veral op plase goed aangewend kan word. Dit kan namens jou lyndrade nagaan en regstreekse hoë kwaliteit video na jou foon, rekenaar of televisie toe stuur. Dit kan met ‘n nagsig kamera toegerus word, om snags jou gronde te patrolleer en betreders raak te sien.
“Enige iemand kan ‘n drone vir so min as R3 000 gaan koop. Daar is niemand wat sê jy mag nie. Maar jy mag hom nie vlieg nie. Ek het uitgevind en hulle sê dat hulle tans besig is om wetgewing en riglyne vir drones te ontwikkel. Mens weet net nie hoe lank dit in Suid-Afrika gaan vat nie,” vertel die operateur wat sy hommeltuig meestal gebruik om lugfoto’s op plase en wildtellings te doen.



