Radiogroepman duik dief plat
'n Lid van die Kanonkop/Dennesig/Middedorp radiogroep het Donderdag in die vroeë oggendure 'n vermeende dief platgetrek toe hy probeer vlug het.
Die radiogroep het omstreeks 02:00 reageer op ‘n noodroep. ‘n Vrou, wat oorkant die besigheid Dekra (in Walter Sisulustraat) bly, het gesien hoe booswigte wiele van een van Dekra se voertuie afsteel en dit in hul voertuig laai.
Volgens mnr. Raymond van der Berg (van die radiogroep) was mnr. Ettiene Botha blitsig op die toneel.
By die Korrektiewe Dienste se tuine het die booswigte uit hul voertuig geklim en die wiele oor die drade gegooi, klaarblyklik om dit later te gaan haal. Radiolid Marius Jordaan het later die wiele in die tuin teruggevind.
Op hierdie stadium het die radiogroep egter op hulle toegesak en het die diewe in alle rigtings gespat. Van die diewe het die donker in verdwyn by die Klein Olifantsrivier. Een van hulle het egter teruggespring in die voertuig en begin wegjaag.
Die radiogroep het die Mazda Sting agterna gesit tot by die Iraq Taxistaanplek. Die booswig het ingejaag by die staanplek en besef hy is vas, waarop hy weer by die staanplek probeer uitjaag het.
Mnr. JC Joubert was egter reg agter hom met sy bakkie en hy het in mnr. Joubert se bakkie vasgejaag. Die dief het uit die voertuig gespring en probeer weghardloop, maar mnr. Joubert was ook reeds uit sy voertuig uit en het hom ‘n entjie verder platgeduik en gearresteer.
Die polisie was binne vyf minute op die toneel, waarop die verdagte gearresteer is.
• Die vermeende dief het Donderdagoggend in die hof verskyn. Teen druktyd was sy naam egter nog nie bekend gemaak nie.
• Mnr. Van der Berg het gemeld dat hulle weet wie die ander verdagtes is en foto’s is gesirkuleer word wat lede van Middelburg 911 by ander rooftonele van die verdagtes geneem het.




