Local newsNews

Opvolg: Advokaat kyk na hospitaaldood

Die vuurvreter advokaat, mnr. Salie Joubert, wat spesialiseer in mediese nalatigheidsake, is genader om ondersoek in te stel of 'n saak wel teen die Middelburg Hospitaal sal slaag, na die dood van mnr. Coenraad Janse van Rensburg op 1 Februarie.

Mnr. Janse van Rensburg se dogters, Stephanie Lottering en Belinda Janse van Rensburg, beskuldig die hospitaal van nalatigheid, nadat hy dood is aan Steven-Johnson sindroom.

Die sindroom is ‘n velsiekte. Dit word hoofsaaklik deur ‘n toksiese reaksie op medikasies soos penisillien, waaraan mnr. Janse van Rensburg allergies was, veroorsaak.

Me. Lottering sê ten spyte van volgehoue waarskuwings dat haar pa allergies is vir penisillien, het die hospitaal die antibiotika aanhou toedien en dit selfs in groot dosisse vir mnr. Janse van Rensburg voorgeskryf.

Sy reaksie op die medikasie was so ernstig dat hy nie eens meer kon sluk ten tye van sy dood nie.

Die dogters het die plaaslike prokureur, mnr. Danie Koekemoer, genader wat ‘n outopsie voorgestel het, maar die hospitaal weier.

‘n Senior dokter van die hospitaal het aanvanklik toegestem tot die outopsie maar net omdat sy gedink het sy liggaam is nog in die lykshuis, twee weke na sy dood.

“Toe sy uitvind dat hy reeds twee weke terug in Pretoria begrawe lê, het die dokters selfs aangebied om hom te laat opgrawe, maar gou haar deuntjie verander, nadat die Observer oor sy dood berig het,” sê me. Lottering wat nou beweer dat sy en haar suster summier toegang en behandeling geweier word by die hospitaal.

Omdat ‘n outopsie geweier word, sê mnr. Koekemoer, sal daar volgende week met mnr. Joubert gekonsulteer word oor die meriete van die saak, waarna ‘n besluit oor toekomstige optrede geneem sal word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button