Karavaanfabriek op dorp geopen
In 'n tyd waar die ekonomie knyp, het 'n plaaslike inwoner nie net 'n karavaan ontwerp nie, maar ook 'n karavaanfabriek op die dorp begin!
Mnr. Marius Ras, beter bekend as die eienaar van Raslo Musiek en Raslo Productions, is beskeie oor die Mobi Lodge wat die kampmark soos ‘n bom getref het.
Die Mobi Lodge word die naweek amptelik bekend gestel by die Beeld Buitelewe Skou by Gallagher Estate, maar hy het reeds 13 van dié waens in die afgelope twee maande verkoop!
En al moet hy na 28 jaar hartseer afskeid neem van Raslo Musiek, is dit ‘n nuwe begin en ‘n doelgerigte “besigheidsbesluit” (soos hy dit noem) vir mnr. Ras en sy vrou, Lorinda.
Mnr. Ras sê hy het oor ‘n tydperk van sowat twee en ‘n half jaar die Mobi Lodge ontwerp en ontwikkel.
Die aanvanklike doel van die karavaan was om dit makliker vir hom en sy vrou te maak as hulle klank en musiek op ander dorpe gaan doen het vir Raslo Productions.
Van die begin af wou hy ‘n 4×4 boskaravaan hê, omdat hulle ook graag in Botswana gaan kamp. Die plek langs die Khwairivier waar hulle altyd kamp, het nie geriewe nie en hy het besluit dat die karavaan ook sy eie geriewe moes hê.
Hul klankverhoog het ‘n interessante uitskuif-konsep en ook dit het in sy kop vasgesteek. Maar hoe kry jy die idee van ‘n kompakte boskaravaan gekoppel aan die gerief en spasie van ‘n groot dubbelas-karavaan – jy gebruik die uitskuifkonsep natuurlik!
En vergeet van ure se op- of afslaan. Dit vat presies twee minute om jou Mobi Lodge gereed te kry!
Dit is wat die Mobi Lodge so uniek maak, sê mnr. Ras. “Jy het die vol boskaravaan belewenis, maar met die gerief en spasie van ‘n dubbelas karavaan.” Hy nooi mense om te kom kyk “na die karavaan met die meeste binnespasie – dit is so ontwerp dat jy in die wa kan kuier.”
Dit is die eerste uitskuifkonsep in Suid-Afrika en waarskynlik die enigste karavaanfabriek in Mpumalanga.
Die uitglykonsep werk op ‘n spesiaal vervaardigde rollersisteem.
Hierdie is sowaar ‘n mobiele “lodge” op wiele, want die dag as jy hom koop, kan jy net aanhak en gaan vakansie hou, want die Mobi Lodge kom “volhuis” toegerus met alles waaraan jy kan dink vir jou karavaan. Van ‘n tuinslang, tot kombuisware, ‘n battery, ‘n geiser, watertenks en gereedskap.
“Dit is ‘n go anywhere karavaan vanaf Ballito tot Botswana met ‘n wa wat enige pad kan ry.”
Die karavaan weeg dieselfde as ander 4×4 boskaravane (2.5 ton as met vere), met die verskil: dit is die enigste boskaravaan met ‘n volledige badkamer: toilet, stort én wasbak!”
Verder het die karavaan ‘n gegalvaniseerde onderstel en ‘n homogene veselglasvorm. “Ons het die Mobi Lodge gebou soos ‘n mens bote bou: glasvesel met staalversterkings en skeepshout vir die kaste.”
Maar moenie net mnr. Ras of ons woord daarvoor vat nie. ‘n Joernalis van die tydskrif, “Wegsleep” wou self die Mobi Lodge toets.
Sy opskrif van ‘n vyf bladsye uiteensetting waarin hy die die karavaan se lof besing, sê alles: “Die woonwa van môre!”
Mnr. Leon Botha het al die pad van die Kaap af gevlieg en 1 300km ver met die karavaan gery om te gaan kamp.
Mnr. Ras sê laggend dat hy die risiko moes neem vir enige kritiek vanaf dié skrywer. Maar, hy was verniet bekommerd. “Leon was in vervoering oor die Mobi Lodge! Hierdie karavaan het beslis nie sy gelyke in die mark nie.”
Die Mobi Lodge word vervaardig by hul 1 800m² groot produksiefabriek, (Leisure Development) met volledige produksielyn in Joulestraat (Industriële gebied).
Persone wat die karavaan van nader wil bekyk, kan mnr. Ras bel by 083 230 6131 of besoek hul webtuiste by www.mobilodge.com
• Alhoewel Raslo Musiek toemaak, gaan hulle steeds voort met Raslo Productions.



