Local newsNewsUpdate

Opvolg: Vrieskasmoorde: Drie skuldig

Die drie beskuldigdes in die wrede vrieskasmoorde is vandag (Vrydag, 27 Februarie), in die rondgaande hooggeregshof in Middelburg skuldig bevind aan moord en verswarende roof.

Bongani Joseph Ncongwane, Irving Brown Nkosi en Sibusiso Charles Sibanyoni het mnr. Rudolf en me. Elna van Heerden van Belfast vermoor.

Nkosi en Sibanyoni is onderskeidelik ook skuldig bevind aan die onwettige besit van vuurwapens, wat tydens die aand van die moorde op 8 en 9 Januarie 2013, by die Van Heerden egpaar gesteel is.

Nkosi is voorts skuldig bevind aan die besit van ammunisie wat ook gedurende die huisbraak in Fitzpatrickstraat gesteel is.

Naas die skuldigbevindings aan die opspraakwekkende moorde, het beide Ncongwane en Nkosi reeds vier en vyf vorige veroordelings teen hulle.

Ncongwane is op 24 Mei 2005 skuldig bevind aan die besit van dwelms, op 11 Augustus 2006 vir huisbraak, op 22 Julie 2011 aan aanranding met die opset om te beseer en op 27 November 2012 vir diefstal.

Nkosi is op 28 November 2006 skuldig bevind vir die besit van gesteelde goedere, op 13 Maart 2007 aan huisbraak waartydens hy ook onbevoeg verklaar is om ’n wapen te besit, op 3 Augustus 2009 vir roof, daarna weer op 21 Augustus 2009 vir huisbraak en laastens op 7 September 2009 vir diefstal.

Sibanyoni het net een vorige veroordeling teen hom vir aanranding met die opset om ernstig te beseer, waaraan hy op 14 Desember 2010 skuldig bevind is, en ook onbevoeg verklaar is vir die besit van ’n wapen.

Nkosi en Sibanyoni was deur die marathon verhoor heeltyd opgewek en vas oortuig dat ’n sangoma hulle van vervolging sou red.

Nkosi is kort voor vonnis opgelê is weer gehoor-sê dat ’n sangoma hom gedurende die week in die gevangenis besoek het, en dat dié hom oortuig het dat vonnisverrigtinge nie sou voortgaan nie.

Ncongwane se pleitverandering op dag twee van die verhoor was die spyker in beide se doodskiste.

Ncongwane, wat op die eerste dag saam met Nkosi en Sibanyoni onskuldig gepleit het, het die volgende dag sy pleit verander en na maande se voortslepende uitstelle het hy sy oomblik in die getuiebank gekry.

Hoendervleis getuienis van hoe mnr. Van Heerden se kop by die vrieskas ingeskop is deur Nkosi, was maar van die gedetaileerde getuienis wat die hof toegelaat het teen sy medebeskuldigdes.

Beide Nkosi en Sibanyoni het getuig dat hulle in eMalahleni was ten tye van die moorde en dat Sibanyoni se suster en swaer die alibi’s kon bevestig.

Toe die hof Dinsdag las dat die familielede hof toe gebring word, om die alibi’s te bevestig, het beide Sibanyoni se suster en swaer egter geweier om namens hulle te getuig en verder gesê dat hulle niks met die saak uit te waai wil hê nie.

Hoewel Ncongwane getuig het dat beide die bejaardes nog lewend was toe hulle in die vrieskas gegooi is, kon die patoloog wat die nadoodse ondersoek gedoen het, dit nie bevestig nie, en sê sy verslag dat die egpaar dood is weens verwurging.

Mnr. Van Heerden is met een van sy vrou se bra’s om sy nek in die vrieskas gevind terwyl me. Van Heerden met haar japon se gordel gewurg is.

Mnr. Van Heerden is bo op sy vrou in die vrieskas, wat deur die moord trio gesluit is, gevind.

Voorvonnisverslae is deur beide Nkosi en Sibanyoni se advokate aangevra en die datum vir hul vonnisoplegging is nie vasgestel voor publikasie nie.

•Mnr. Eric van der Merwe het die staat se saak behartig.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button