Local newsNews

Optimum sluit

Altesaam 1070 werkers van Optimum Myn is in kennis gestel dat oopgroef-operasies gestaak word en dat hulle werk nou daarmee heen is.

Die skokaankondiging is Donderdag amptelik deur die Glencore groep gemaak, en plaaslike raadslede en besigheidslui het met skok kennis geneem van die skielike sluiting gedurende die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, se afskeidsfunksie dieselfde aand.

Burgemeesterskomiteelid, raadslid Rehana Pilodia, het gedurende die aansitete vir mnr. Fouché, die Observer genader om te verneem oor die akkuraatheid van die riemtelegram wat tydens die funksie die selfone laat biep het.

Die aankondiging is ure na die koerant se ter perse gaan, gemaak.
Die myners, insluitende honderde kontrakteurs, is per brief van die sluiting in kennis gestel, waarna ‘n nasionale vrystelling deur Glencore gesirkuleer is.

Myndorpies soos Pullenshope gaan veral geraak word deur Glencore se besluit om oopgroef aktiwiteite te staak.

Die Optimum oopgroef sluiting, volg kort op die sluiting van die Shanduka Townlands operasies, in Junie verlede jaar.
Volgens mnr. Gugulethu Maqetuka, segsman van Glencore, is die staak van oopgroef operasies by Optimum aangekondig na ‘n deeglike ondersoek na die volhoubaarheid van steenkoolproduksie gemeet aan dalings in die internasionale en plaaslike koolmarkte.

Weens kontraktuele verpligtinge vir koolvoorsiening aan Hendrina Kragstasie, sal ondergrondse mynbedrywighede by Optimum steeds voortgaan.

Die sluiting het net betrekking op Optimum se oopgroef bedrywe, insluitende groot gedeeltes van die myn se steenkool prosesseringsaanlegte.

Die myn, wat jaarlikse sowat 10 miljoen se steenkool vir die plaaslike en uitvoermarkte produseer, sal met die komende sluiting, slegs die helfte oftewel, vyf miljoen ton, se produksie kan volhou, en verhoed dat Eskom nog verdere kragvoorsieningsterugslae beleef.

Seksie 189 onderhandelinge vir pakkette is reeds aan die gang gesit met unies en geaffekteerde myners.

“Moontlike aanstellings by ander Glencore operasies, waar vakante poste is, sal oorweeg word,” verseker mnr. Maqetuka.

Die sluiting word soos in Shanduka se geval, toegeskryf aan swak steenkoolpryse in ‘n steeds dalende mark.

Alle oopgroef operasies, soos die nuwe Kwagga Noord operasie, wat onlangs onder internasionale skoot gekom het weens die verskuiwing van talle grafte, sal gestaak word.

Glencore wou nie bekendmaak hoeveel werkers sal aanbly by hul ondergrondse Optimum operasies nie, maar sê dis ‘n “relatiewe groot werksmag wat mynwerkers en kontrakteurs insluit”.

Die oopgroef infrastruktuur en steenkoolverwerkingsaanlegte wat geraak word sal op toesig en onderhoud gesit word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button