Opvolg: Antz by Radio Laeveld
Annemarie (Antz) Mulder, die vrou wat na bewering haar man op 2 Oktober 2013 geskiet het, werk sedert September verlede jaar by Radio Laeveld, waar sy die ontbytprogram hanteer..
Me. Mulder sê sy het ‘n aanbod by dié gemeenskapsradio aanvaar. Sy het voorheen vir meer as vier jaar by Kosmos Radio gewerk. “Ek sal egter nie huiwer om weer in Middelburg te gaan bly nie. Daar is lieflike mense,” sê sy.
Sy het in 2013 en vroeg in 2014 verskeie kere in die hof verskyn op ‘n klagte van poging tot moord.
Die saak is daarna vir 7 Augustus 2014 op die hofrol geplaas vir verhoor. Landdros Hans Combrink het egter die saak van die rol geskrap, omdat die staat nie gereed was om met die verhoor aan te gaan nie.
Hy het tydens die hofverrigtinge gesê dat hy nie “sal duld dat die staat die hof se tyd mors nie en dat die beskuldigde (Mulder) geregtig is op ‘n regverdige verhoor.”
Die Departement van Openbare Vervolging het intussen besluit om die saak te heropen en me. Mulder sou laat in 2014 weer gedagvaar word, om in die hof te verskyn. Sy het egter nie betyds die dagvaardiging ontvang nie en ‘n nuwe datum vir 9 Januarie 2015 is op die hofrol geplaas.
Sy het egter weereens nie betyds die dagvaardiging ontvang nie en die nuwe datum vir “eerste verskyning” is op die hofrol geplaas vir 20 Februarie. Sy het bevestig dat sy op dié dag in die hof moet verskyn.
Haar kommentaar oor die komende hofsaak was slegs: “dit is nie ‘n lekker vooruitsig nie, maar die regsproses moet sy gang gaan. Ek wil dit nou net agter die rug kry.”
• Daar was klaarblyklik ‘n woordewisseling tussen die egpaar op 2 Oktober 2013, waarop mnr. Mulder vier keer geskiet is. Hy het later aan ‘n joernalis gesê dat “sy geskiet het om dood te skiet.” Die egpaar is etlike maande later geskei.
Lees meer hier:
Opvolg: Man skryf boek oor verhaal



