Bolezlow is weer soek
Die polisie is op soek na Bolezlow Reynierse, wat hom iewers op die dorp bevind.
Die Observer het al verskeie maal oor dié dwelmafhanklike, wat al telkens agter tralies was, berig.
Bolezlow is berug daarvoor dat hy niemand, selfs die wat hom na elke vrylating uit die selle inneem, ontsien nie.
Mnr. Hein du Plessis en sy dogter, is sy mees onlangse beweerde slagoffers nadat hulle hom ook wou help.
Hy word nou gesoek vir die diefstal van mnr Du Plessis se dogter, Maryke, se selfoon, nadat hy ook in Desember deur sy kind se ouma laat arresteer is weens die diefstal van haar ringe.
Mnr. Du Plessis sê hy het Bolezlow net na sy vrylating op die ringklag, by hom ingeneem, maar dat dinge gou begin skeefloop het.
Die tuinwoonstel waar Bolezlow kon bly, is met die hoofhuis verbind deur ‘n binnehof, en so het Bolozlow deur die dak toegang tot die huis verkry.
Mnr. Du Plessis het sy dogter polisiestasie toe vergesel vir die oopmaak van die diefstal van die selfoon klag, hoewel hy later self met nadere ondersoek gevind het dat hy waarskynlik twee kar radio’s, gereedskap en ook sy seun JD se duur selfoon gesteel het.
Die geraamde waarde beloop meer as R17 000.
Hy was die week in die Kaap en sê hy sal self ook ‘n diefstalklag teen Bolezlow oopmaak met sy terugkoms.
Naas die goed wat vermis word, het mnr. Du Plessis ook ‘n vreemde sak vol dwelmparafernalia gekry, wat hy vermoed deur Bolezlow agtergelaat is.
Indien jy weet waar Bolezlow is, skakel kolonel Phila Mahlangu by die plaaslike speurtak by 013 249 1402.



