25 Dood die jaar
Skok statistieke oor botsings wat van Januarie af in Middelburg plaasgevind het, bewys duidelik dat motoriste nie net vir hulleself op die paaie moet dink nie, maar vir die man voor hom, agter hom, langs hom en die wat van voor af kom.
In 2784 botsings tussen Januarie en November, was daar 3855 persone betrokke, waarvan 25 dood is, 125 ernstig beseer is, en 363 behandel is vir ligte beserings.
September was die bloederigste maand met vyf noodlottige ongelukke, gevolg deur Januarie (Vier), Februarie, Mei en Augustus (Drie), en April en Junie (Twee).
Die sterfte statistieke stem ooreen met die botsings, met vyf sterftes in September, vier in Januarie, drie in Februarie, Mei, Junie en Augustus, en twee in April.
Daar was ’n totaal van 75 ernstige botsings, 268 minder ernstige botsings en 2117 botsings waar geringe skade aan motors aangerig is.
Uit die 2784 botsings vir die jaar, was altesaam 3342 mense gelukkig om geen beserings op te doen nie.
Die padslagting statistieke is verkry na die sterfte van a/o Shima Mahaole, op 3 November, by die Beyers Naude/Walter Sisulu kruising.
A/o Mahaole, ’n hofordonnans, is deur ’n rollende sedan getref, nadat dié met ’n bakkie in die kruising gebots het.
Die wrak het op a/o Mahaole te lande gekom.
Omstanders het sekondes na die ongeluk die motor van hom afgelig, en hom onder uitgesleep.
Daar was egter nie ambulanse beskikbaar nie, en a/o Mahaole, moes vir meer as ’n halfuur, bloeiende in die pad langs sy hofkollega, die tolk mnr. Vusi Nkosi, lê.
Niemand is nog in verband met die noodlottige botsing aangekla nie, omdat daar steeds gewag word op die post mortem verslag en forensiese foto-album, om by die dossier gevoeg te word.



