Video: ‘n Laaste vrugtelose vassteek
'n Reuse ou bloekomboom het kontrakteurs vir bykans twee weke laat swoeg.
Die reuse afgesaagde boom, wat al vir maande aan die John Magagula-kant van die rivier in die Klein Olifantsrivier lê, is Woensdagmiddag uiteindelik uit die rivier gelig.
Die kontrakteur, mnr. Petrus Mahlangu, het gesê dat hy al van verlede week af sukkel om dié reuse ou bloekomboom uit die rivier te kry. Die bome is tydens ‘n Werk-vir-Water projek om uitheemse bome te verwyder, vroeër hierdie jaar afgesaag.
Die stadsraad het gereël dat die afgesaagde bome langs die rivier verwyder word, maar die drie reuse wat in die water beland het, was ‘n groot kopseer.
Mnr. Mahlangu (van STK Driving Academy) het die kontrak gekry, om die bome uit die rivier te haal.
Mnr. Mahlangu het gaan aanklop by mnr. Danie Deysel (van Monaco Insleepdienste), wat mnr. Louis Coetzee (van Induna Insleepdienste, eMalahleni) aanbeveel het.
Mnr. Coetzee het opgedaag met ‘n insleeptrok, waarmee hulle gewoonlik swaar vragmotors insleep, wat in ongelukke was. Dit was duidelik dat hy verras was met die gewig van die boom.
Mnr. Coetzee het verduidelik dat die twee wenaste saam sowat 40 ton kan uittrek. “Maar hierdie is nie ‘n trok of ‘n kar nie! Die boom het water getrek en hy het vasgesuig in die modder!” Die boom het ‘n paar meter uit die water gelig, maar net daar vasgesteek.
Mnr. Coetzee en die span van STK Driving Academy, het besluit om die boom stuk vir stuk uit te haal, deur stukke af te saag en uit te sleep.
Mnr. Mahlangu sê dat hy so gou as moontlik ook die ander twee bome uit die rivier moet haal, omdat dit nou reënseisoen is. Sou die Middelburgdam se sluise oopgemaak word, kan die massas water wat afkom, die bome meesleur en skade aan die laagwaterbruggie en brug by Mhluzi aanrig.
•Me. Dalene Lambrechts (Parkehoof) sê die bome word nie net verwyder om skade te voorkom nie, maar ook vir netheid by die Klein Olifantsrivier.
• Alhoewel dit die afgelope paar dae erg gereën het in Mpumalanga, het die opvanggebied (Hendrina, Arnot) nog nie genoeg water gestuur om die sluise oop te maak nie.
Mnr. Neels Struwig (damopsigter) sê die inloop by die dam het met die laaste paar dae se reën net met ‘n paar millimeter gestyg, vanaf 80.7% na 80.8%. “Die dam moet nog meer as twee en ‘n half meter styg voor ons ‘n sluis kan oopmaak.”
Laat in November verlede jaar was die dam so leeg dat waterbeperkings ingestel is.
Daar het egter een aand “in ‘n spesifieke kol in die opvangsgebied” 130mm reën geval en die sluise moes binne twee dae oopgemaak word.
“Ek het verlof gekry omdat die dam so leeg was en op die dag wat ek met verlof sou gaan, moes ek die sluis oopmaak!”



