Local newsNews

‘Ek het alles sien gebeur!’

Die ooggetuie van die ongeluk waarin mnr. Koos de Beer (70) gesterf het, kan sedert die gebeure nie slaap nie.

“Ek het álles sien gebeur! Dis verskriklik!” het mnr. Johan Pelser Maandagoggend gesê.

Hy het in die rigting van Loskopdam agter ‘n blou Fortuner gery, omstreeks 09:00. Die Fortuner het ‘n waentjie, waarop ‘n bees vasgemaak was, gesleep.

Die volgende oomblik het die waentjie losgekom en mnr. Pelser het met afgryse gesien hoe die waentjie trompop bots met ‘n Landrover Defender, wat in die rigting van Middelburg gery het.

Die Landrover het gerol en mnr. De Beer is uit die voertuig geslinger. Lees berig hier: Bekende boer sterf in ongeluk

Mnr. Pelser sê hy kon weens skok vir etlike sekondes nie beweeg nie. Hy het uitgespring en na mnr. De Beer gehardloop. Hy het opgemerk dat mnr. De Beer nog effens asemhaal, maar hy het kort daarna aan sy beserings beswyk.

Verskeie mense het hierna op die toneel gestop. Daar is later aan die Observer gesê dat die bestuurder van die Fortuner “erg geïrriteerd en arrogant was.” Hy het ook nie met die familie, wat ook op die toneel aangekom het, gesimpatiseer nie. Hy was eerder geïrriteerd en het gesê dat almal sy tyd mors.

Mnr. Pelser sê daar is vir die bestuurder van die Fortuner gesê dat die bees geskiet moet word, weens erge beserings, maar hy het volstrek geweier.

Mnr. Pelser het nie geweet wie van die familie om te laat weet van die ongeluk nie en het die laaste nommer op mnr. De Beer se selfoon gebel.

Mnr. Basie Erwee, mnr. De Beer se vriend, het geantwoord.

“Ek het net by die huis in Middelburg gestop nadat ek by Koos-hulle gekuier het. Ek en hy het diep dinge gepraat voor ek gery het. Dit is alles nog so onwerklik. Dit is moord man! Daardie waentjie kon nooit ‘n bees gedra het nie. Koos was my vriend vir meer as 40 jaar. Hy het ‘n afspraak met die dokter daardie oggend gehad, maar toe het hy ‘n afspraak met die doodsengel.”

Mnr. De Beer se dogter, Hesta Buitendacht, het haar pa beskryf as ‘n statige, diep man. Mnr. Erwee het bygevoeg dat “Koos die Bybel op die punte van sy vingers geken het.”

Teen druktyd was die begrafnisreëlings nog nie gefinaliseer nie, omdat daar nog ‘n lykskouing gehou moes word. Me. Buitendacht het gemeld dat hulle ook nog wag vir haar broer, Danie, wat vanaf Australië moet kom.

• Die begrafnis is voorlopig gereël vir Maandag, 11:00 uit die APKerk in Kanonkop. Die finale reëlings sal in die Vrydag uitgawe gepubliseer word.

• Die bestuurder van die Fortuner wou nie sy kontakbesonderhede op die toneel aan die familie verstrek nie en teen druktyd kon die Observer hom ook nie in die hande kry vir sy kommentaar rakende die gebeure nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button