Loskoppad wilder by die dag
Mense wat langs die N11 boer en woon, is raadop met Botshabelo se wild en vee van Mhluzi, wat toegang tot die besige pad kry oor Botshabelo se lendelam wildsheinings.
Die heinings is jare lank in stand gehou deur die munisipaliteit, maar met oorname van Botshabelo deur die Botshabelo Gemeenskapsontwikkelings Trust, is die instandhouding van die heinings nou die verantwoordelikheid van die eisers.
Mnr. Vic Luw, eienaar van Waenhuiskraal Gastehuis, reg oorkant Botshabelo, sê hulle vind gereeld rondloper diere op die pad, wat ’n ernstige gevaar skep vir motoriste.
Rondloper vee word ook in die veld langs Dennesig en selfs so ver as Kees Taljaardpark opgemerk.
Dit is algemeen bekend dat die Botshabelo eisers nié die finansiële vermoeë het, om die heining in stand te hou nie.
Die voormalige direksie van die trust word ook verdink van finansiële wanbestuur, omdat daar steeds nie verslag gedoen kan word oor meer as R8 miljoen wat deur die Lotto aan hulle gegee is nie.
Die voormalige premier en huidige adjunkminister van justisie, mnr. Thabang Makwetla, wat self ’n eiser is, het tydens ’n vroeëre onderhoud ruiterlik erken, dat die direksielede geen ondervinding het van bate- of finansiële bestuur nie.
Hy het verder erken dat daar miljoene rande soek is, en weens die feit dat daar nie deeglik boek gehou is nie, trek almal net skouers op oor die verliese.
Die vliegveld, wat deel is van Botshabelo en die eis, word deur die munisipaliteit oor langtermyn gehuur en ’n tender is reeds uitgesit vir die opgradering van die drade daar.
Die res van Botshabelo is egter die verantwoordelikheid van die eisers en sal nie gou herstel word nie.




Hoekom goed EIS as jy nie dit in die eerste plek in stand kan hou nie??? Maak probleem diere van kant.. glo my, niemand sal op n pad wil ry waar jy heeltyd moet hoop en bid daar hardloop nie diere voor jou kar in nie!