Video: Soek nou na liefdevolle huis
’n Hond is só wreedaardig met ’n pyp geslaan dat hy die sig in sy oog verloor het.
’n Mens se hart krimp ineen as die hond sy stert begin waai in sy Dierebeskermingsvereniging hok, maar stadig tot by jou voete kruip, so al asof hy vra: “Moet my asseblief net nie weer slaan nie.”
Dit is duidelik dat die hond ook reeds diep in senior inspekteur Petro Oberholzer (Middelburg DBV Bestuurder) se hart ingekruip het, “omdat hy so aangehou veg het om te lewe. Hy moet nou net so gou as moontlik ’n huis kry. Ons kan hom nie onbepaald in die hok aanhou nie.”
Die DBV is op 15 September deur ’n histeriese me. Jo-Anne Botha vanaf die plaas Mooiplaas (tussen Arnot en Hendrina) gekontak oor ’n hond wat erg geslaan is.
Me. Botha vertel dat sy die dag gou plaas toe is (waar hulle ’n huis gehuur het) om haar bloeddrukpille te gaan drink.
Sy was nog in die huis toe sy ’n hond hoor tjank. Sy het gedink dit is haar honde en het na buite gehardloop – ’n plaaswerker was besig om ’n rondloperhond geweldig met ’n pyp te slaan.
Me. Botha het nadergehardloop en vir hom geskree om op te hou, maar hy het hom nie aan haar gesteur nie. Voordat sy kon keer, het hy die beseerde hond in ’n modderpoel gegooi en teruggeloop na sy huis.
Sy het met haar netjiese werksklere kniediep die modder ingehardloop om die roggelende hond uit te haal. “Al was hy erg beseer en in pyn, het hy nie een keer gegrom of my probeer byt nie.”
Die DBV het die hond na dr. Leon Connoway (Oribi Dierekliniek) geneem. Tydens ondersoek is gevind dat die hond se oog só beseer is dat hy nooit weer daarmee sal kan sien nie. Bloed het uit sy neus gedrup en daar was groot stukkende plekke op en agter sy kop. Sy oor was flenters geslaan.
Tot almal se verbasing het die hond die aanval oorleef.
Die hond is glad nie aggressief nie en persone wat dit wil oorweeg om hom aan te neem, kan die DBV bel by 013 243 1434. (Dit is ’n Africanus-hond).
• ’n Klagte van dieremishandeling onder die Dierebeskermingswet is deur senior inspekteur Oberholzer by die Hendrina Polisie aanhangig gemaak. Teen druktyd het die persoon nog nie in die hof verskyn nie en mag sy naam nie bekend gemaak word nie.
• Die eienaar van die plaas, mnr. Gerhard Strydom, sê hy is woonagtig in Pretoria en dat die plaaswerker na sy plaas omsien.
Hy sê dat daar nooit sprake was dat hy die werker opdrag gegee het om rondloperhonde dood te maak nie.
“Ek is ’n boer, ’n mens gaan nie rond en maak diere dood nie. My hoenders is al deur buurhonde gevang en by ’n ander geleentheid het ’n hond vyf dragtige ooie verskeur. Ek het ordentlik met die eienaars van die honde gaan praat en net verwag dat hulle die skade moes betaal.”







