Local newsNews

Video: OR Tambo sweer aant oopbars

Op die kruin van 'n vloed van kritiek, het die munisipaliteit Vrydag die groot masjiene by OR Tambostraat ingestoot, om die wilde spoedwalle te verlaag.

En, soos gewoonlik, speel die burgemeesterkomiteelid, me. Rehana Pilodia, weer ‘n sentrale rol in die vinnige reaksie van die munisipaliteit na ‘n stroom beskuldigings van inwoners wat wissel van korrupte kontrakteurs, munisipale onbevoegtheid, diefstal van hardverdiende belastinggelde en ‘n algemene gebrek aan begrip vir besighede vanuit die munisipaliteit.

‘n String Facebook klagtes oor skade aan motors weens die spoedwal is dadelik na die veiligheidshoof, mnr. Ahmed Seedat, verwys.

Maar, dit is nie net motoriste wat kla nie.

Die eienaar van Old Fashioned Fish & Chips, mnr. Alex Papadopoulos, het Maandagmore terwyl die kontrakwerkers rustig op hul masjiene langs die pad gesit en gesels het, gesê die area voor sy winkel is al “vier keer vanjaar oorgedoen”.

Hy kla voorts dat versoeke vir waterkarre om die stof te verminder, soms vir ure geïgnoreer word.

Onlangse onderhoude met verskeie besighede in die straat het daarop gedui dat die meeste kommerwekkende verliese ly – selfs kettingwinkels soos Miladys sukkel om kop bo water te hou.

Verskeie motors het Maandag steeds hul onderstelle teen die spoedwalle, wat Vrydag verklein is, geskuur.

By ‘n ander spoedwal is die een baan gesluit en moes motoriste tot groot frustrasie wag vir verbykomkans.

Op een area plek ‘n parkeerplek summier gesluit, omdat daar ‘n halwe kruiwa se hopie sand daarin was.

Bourommel word letterlik langs die pad gegooi op klein hopies en toegemaak met afsperrings in die yvlak.

En, dit gaan al die afgelope twee jaar so aan in dié lewensaar van Middelburg.

Volgens die DA beloop die projek al R80 miljoen en het die kontrakteur wat aanvanklik aangestel is vir die projek, oornag verdwyn.

Die munisipale openbarefondse komitee wat Dinsdag vergader het, sal nou self gaan ondersoek instel na die voortslepende chaos in OR Tambo.

Nog die projekbestuurder, mnr. Eric Sithole, nog sy assistent, me. Lindiwe Silolo, was Maandag teen druktyd beskikbaar vir kommentaar nadat die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, navrae na hulle verwys het.

Mnr. Fouché het wel toegegee dat die spoedwalle “gedurende die naweek verlaag sou word”.

Belastingbetalers en besighede vra tereg, hoe kan die konstruksie so lank aankarring en wie gaan vir die herhalende gemors betaal?

Tydens ‘n onlangse besoek van raadslede aan die straat is hulle soos die publiek mislei deur te sê die projek “is 95% afgehandel”.

“Se m***,” sê die DA koukusleier, mnr. Hennie Nieman, “hulle is besig om die wol oor ons almal se oë te trek”.

Hy het bevestig dat die amptenare bemoeid met die projek boonop “baie laks is met die voorlê van syfers en tydsverloop”.

Hy meen die projek sal nog ontbloot word as een van die grootste infrastruktuur skandale wat die dorp nog teegekom het.

• Die projekbestuurder, mnr. Sithole, sou glo eers Woensdag terug wees op kantoor om die Observer se vrae te beantwoord. Koop jou Vrydag uitgawe vir sy verduidelikings.

• VIDEO – Kyk gerus na beeldmateriaal van die belaglike toedrag van sake in OR Tambostraat:

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

  1. Hierdie is ‘n globale misbruik van openbare fondse. Wat is die rede vir al die spoedwalle wat aangebring is? Eers is die pad gekompakteer en plaveisel ten duurste gelê. Nou word die einste gekompakteerde grond opgegrou, plaveisel verwyder en hobbels gelê. Arbeid, tyd, huur van masjienerie ens word nou dubbel betaal, nou gaan dieselfde gebeur met die verlaging van die spoedwalle, en teen die tyd dat die middedorp leegloop omdat niemand meer daar wil ry nie, gaan die spoedwalle weer teen betaling verwyder word.

    Ek self ry nie meer in die spesifieke straat met my voertuig nie, want dit neem jou tussen 20minute en ‘n halfuur om vanaf die Polisie stasie tot by standard bank te ry, weens verkeer wat so stadig beweeg.

    Ek ry nou eerder 10 minute na die Middelburg Mall toe, en gaan doen my sake daar. Minder rompslomp en hoë bloeddruk en genoegsame parkering, met minder kans om beroof te word.

Back to top button