Video: Uiltjies met sorg grootgemaak
Elke uil dink sy kuiken is 'n arend. Dit word gewoonlik gesê van ouers wat graag glo dat hul bloeitjie die oulikste en slimste is.
Drie uilkuikens wat tans by die Dullstroom Bird of Prey and Rehabilitation Centre versorg word, is onder geen illusie dat hulle arende is nie.
“Hulle weet hulle is uile,” sê Sandra Pretorius wat die uiltjies versorg. “Ons werk baie mooi met hulle sodat hulle nie mak word nie.”
Vier uileiers is in Augustus by ‘n myn in die Middelburg omgewing gered kort voordat daar ‘n beplande ontploffing sou wees. Die ontploffing is uitgestel en mynwerkers het saamgewerk om die eiers na veiligheid te bring. Die myn het versoek dat sy naam nie bekendgemak word nie.
Drie van die vier eiers het uitgebroei en die kleintjies word tans in Dullstroom versorg.

Mev. Pretorius sê dat daar baie versigtig te werk gegaan word om te sorg dat die uile nie aan mense gewoond raak nie. ‘n Foto van ‘n gevlekte ooruil, asook ‘n spesiale pak wat tydens voedings aangetrek word, verseker dat die kuikens wild bly sodat hulle later weer in die natuur vrygelaat kan word.
“Toe hulle baie klein was moes ons hulle elke uur voer. Daarna was dit elke twee ure, toe drie en nou is hulle al so groot dat hulle net in die aand gevoer word.”
Die uile se dieet bestaan uit dooie hoenderkuikens en muise. Die muise word in een van vyftien kolonies by die sentrum self geteel.
• Die Dullstroom Bird of Prey and Rehabilitation Centre is sowat ‘n kilometer uit Dullstroom. Buiten vir mev. Prinsloo, wat voorheen ‘n verpleegster by Midmed Hospitaal se neonatale afdeling was, bestaan die span uit Frith Douglas en Magdalie Theron. Die voëls word daagliks om 10:30 en 14:30 geoefen en die publiek word uitgenooi om te gaan kyk.
Die sentrum is tans in die proses om ‘n trustfonds te stig waarin die diere die enigste begunstigdes is. Dit beteken dat skenkings van belasting geëis kan word.
Bel mev. Prinsloo by 079 502 1519 indien jy meer inligting verlang.



