Werksoekers in Springbok
Inwoners van Springbokstraat is keelvol vir die groot groep werksoekers wat die afgelope drie maande elke oggend in hul straat byeenkom, vuur maak en dan oor die Stoffbergpad hardloop om opgelaai te word.
‘n Gesin (wat uit vrees vir vergelding anoniem wil bly) vertel dat die groep elke oggend, Maandag tot Vrydag, in Springbokstraat bymekaarkom.
Terwyl hulle vanaf omstreeks 06:45 tot 07:30 vir hul geleentheid wag, word daar vuur gemaak (op die dae wat dit koud is).
Daar word vertel dat hulle enigiets wat hulle in die hande kry aan die brand steek en dan alles net so los.
Veral Woensdae is dit baie erg, want dan skeur hulle van die swartsakke (wat daar staan om opgelaai te word deur die vulliswa) oop en maak met die artikels in die sakke vuur.
Die gesin maak elke naweek die area skoon, maar Maandag begin die hele proses weer van voor af.
“Terwyl hulle daar staan, hou hulle ons huise dop!”
• Die groep hardloop van Springbokstraat af oor na die Keerom-afrit, waar ‘n voertuig hulle weeksdae oplaai.
• Me. Caroline Hlatswayo (hoof, gemeenskapsdienste) sê dat dit nie onwettig is om daar te staan om te wag vir ‘n geleentheid nie en dat daar dus nie opgetree kan word nie.
• Me. Pamela Mkosi (hoof, verkeer) het gesê dat hulle nie die eienaar van die voertuig kan aanspreek nie, omdat hy geen wette oortree as hy mense by die grondpad oplaai nie. Sy het inwoners van Springbokstraat egter daarop gewys dat dit onwettig is om oop vure te maak. Sy het hulle aanbeveel om die brandweer te kontak as hulle sien die groep maak weer vuur.
• Me. Dalene Lamprechts (hoof, parke) het, toe sy van die klagte hoor, gevra dat die stadsraad se reinigingsdienste dadelik die area gaan skoonmaak.
• Maandagoggend het die groep wéér vuur gemaak en alles net so gelos.
• Dieselfde probleme met werksoekers word al vir jare in Laverstraat en by Mica ondervind. In Laverstraat is dit egter al só erg dat daar borde is wat mense verbied om werksoekers op te laai, maar inwoners steur hulle nie daaraan nie.



