Parkhuis in brand verwoes
'n Brand wat onverklaarbaar op 'n plot by Doornkop begin het, het 'n parkhuis van 'n bouer afgebrand.
Mnr. Chris Roos, wat ‘n huis huur op een van die plotte, sê hy het die rook gesien en gaan ondersoek instel.
Op die plot (wat sowat 15km vanaf Middelburg geleë is), het hy Johannes Manganyane moedeloos langs ‘n brandende hoop gevind.
Johannes het in ‘n tydelike parkhuis langs die “Solly’s Tavern” gebly en vir mnr. Roos verduidelik dat alles wat hy het in die brand verwoes is. Daar het ook ‘n lapa uitgebrand.
• Mnr. Rudolf Uys (van Fire, Disaster & Training) bly in die omgewing en was vanaf die dorp oppad plaas toe, toe hy die rook sien.
Hy het dadelik soontoe gejaag en met sy waterkar die vuur naaste aan hom begin blus. Hy het ook die brandweer gekontak.
Weens die geweldige dwarrelwinde het vure oral ontstaan en het die brand oor die twee plotte versprei en later teen die pad uitgebrand.
Mnr. Uys het gesê dat dit nou windseisoen is en dat die brandweer gekontak moet word, alvorens enige brande gemaak mag word.



