Seks en 4×4 jaers langs rivier
Die bejaarde inwoners van Rivierpark Aftree-oord is siek en sat vir mense wat teen hul palissadeheinings seks het en 4x4 jaers wat hul huise vol stof gooi.
‘n Groot groep bejaardes het verlede week met gebalde vuiste langs die bord gaan staan wat aandui dat motorfietse en vierwielmotorfietse nie in die parkgedeelte (tussen Rivierpark en die Klein Olifantsrivier) toegelaat word nie.
‘n Ontstoke mnr. Jan van Helsdingen (70), het vertel hoe ‘n 4×4 voertuig Donderdagoggend “doughnuts in die omgewing gegooi het.
Al daardie stof het in ons woonstelle ingetrek. Dit brand soos vuur as mens dit inasem, want ek het ‘n longprobleem!”
Bo en behalwe die stof, maak die lawaai hulle gedaan. Dag en nag is daar mense wat op en af jaag met voertuie en motorfietse en moet hulle tot in die vroeë oggendure na dronkies (wat in hul voertuie kuier) se doef-doef musiek luister.
Slegs ‘n palissadeheining skei dié oord van die veldgedeelte en die rivier en hulle kan alles sien wat daagliks in hierdie area aangaan.
Is dit nie musiek, stof en lawaai nie, dan moet hulle noodgedwonge vaskyk in mense wat openlik seks het.
“Hulle kom stop onder die boom, reg langs die heining. Gooi ‘n kombersie op die gras, trek kaalbas uit en gaan aan met hul sekskapades!”
Die bejaardes sê dit gaan al só erg, dat hulle hierdie area “Spykerfontein” gedoop het.
Daar is ook gemeld dat vreemde mans vóór die oë van die bejaarde vroue die palissades gebruik om te urineer.
Boonop stop mense gereeld hul voertuie langs die rivier en was hulle karre.
“Niemand gee ‘n flenter vir ons senior burgers om nie. Dit gaan rof daar. Veral oor naweke. Ons wéét dit is ‘n openbare park, maar kan ons nie vra dat hulle ons bejaardes net in ag kan neem nie?”
• Me. Pamelia Mkosi (hoof, verkeer) het gesê dat sy reeds ‘n klagte van die inwoners van Rivierpark af gekry het. Sy het dadelik ‘n verkeersbeampte uitgestuur om te gaan ondersoek instel, maar met sy aankoms was die skuldiges skoonveld.
• Die probleme in die nagte en persone wat kaalbas in die area opgemerk word, moet met die polisie opgeneem word.




Ek wil net se ons kuier al ses jaar by die rivier braai sondae my kinders ry motorfiets en ons dit is n ingestelde ding by ons.hier is niks om te doen in die dorp ni,so se my wat gan ons doen.ek moet vir my 4jarige se ons bly maar by die huis.nou word almal gestraf hier oor