Uile veroorsaak opskudding
Vir wat sit jy daar soos 'n uil op 'n kluit? 'n Gevlekte ooruil is deur veiligheidsinspekteurs raakgesien terwyl sy soos die Afrikaanse gesegde lui 'soos 'n uil op 'n kluit' gesit het kort voor 'n beplande ontploffing op 'n myn moes plaasvind.
Die mybestuurder, wat versoek het dat sy identiteit en die myn se naam weerhou word, sê dat een van die persone wat die area moes inspekteer om seker te maak dat dit veilig is voor die ontploffing, hom oor die uil in kennis gestel het.
Met nadere ondersoek is daar gevind dat die uil besig was om te broei.
Daar is toe inderhaas na ‘n kundige gesoek om te help om die nes te skuif.
Dit het veroorsaak dat die ontploffing met ‘n dag uitgestel moes word, wat veroorsaak het dat derduisende rande verlore gaan.
“Die kontrakteurs en werkers het almal gesê dat hulle bereid is om die tyd wat daar verloor is êrens anders in te werk. Ons was bereid om daardie dag se produksie te verloor,” het hy vertel.
Die eiers is versigtig verwyder, verpak en na ‘n veilige plek vervoer, waar dit tans in ‘n broeikas bewaar word.

“Ons moes vreeslik versigtig werk. Daar was selfs spesifikasies oor hoe ons die eiers moet vervoer.”
Volgens die mynbestuurder is die broeikas volgens hedendaagse tegnologie ontwerp. Dit is heeltemal toe, handhaaf elektronies die korrekte temperatuur en draai selfs die eiers met tussenposes om.
Daar is besluit om die volwasse uil nie te probeer vang nie. Die kuikens sal met die hand grootgemaak word en dan gerehabiliteer word om weer in die omgewing vry te laat sodra hulle vir hulself kan sorg.
“Dit is vir ons baie belangrik. Ons is vreeslik erg oor die uile. Elke eiertjie het al klaar ‘n naam,” het die mynbestuurder gesê.



