Local newsNewsUpdate

Gestolde kar red vrou se lewe

Me. Magriet Joubert wat verlede Vrydag 08 Auguatus deur twee mans by Wonderpark in haar eie motor ontvoer is, was na die voorval so getraumatiseer dat sy eers Maandag 'n verklaring by die polisie kon aflê oor die gebeure.

Haar ontvoering herinner aan die moord van me. Igna Nortje, ‘n begaafde audioloog van Middelburg wat die oggend van 30 Mei 2012, onder soortgelyke omstandighede ontvoer is by haar huis in Dennesig.

Haar liggaam is dieselfde aand, ‘n entjie vanaf haar BMW, in ‘n sloot naby Verena gekry, met ‘n steekwond aan die nek.

Die polisie ondersoek egter net ‘n saak van gewapende roof ten spyte daarvan dat me. Joubert se aanvallers haar ontvoer en ook ure met haar rondgery het in haar groen Mazda Sting.

Sy is omstreeks 07:00 by Wonderpark met ‘n mes in haar kar ingedwing nadat sy R4500 getrek het by ‘n OTM.

Sy is beveel om plat te lê op die agtersitplek waarna die mans op die Stoffbergpad met haar uitgery het.

Hulle het op die vlug geslaan nadat die motor skielik gestol het en nie weer wou vat nie.

Me. Joubert se selfoon was in haar besit en sy kon daarin slaag om haar vriendin, me. Etu Holtshauzen, van haar ontvoering in kennis te stel.

‘n Wye soektog is toe geloods en sy is later die middag in die Onverwacht omgewing by haar motor gevind.

“Dit was God se wil dat haar motor onklaar geraak het, en sy met haar lewe uit die drama ontsnap het,” het Etu se ma, Tereza Maandag aan die Observer genoem.

Igna se moordenaar is steeds op vrye voet ten spyte van ‘n R100 000 beloning wat haar pa, mnr. ST Potgieter, na haar moord uitgeloof het vir inligting wat sou lei tot haar moordenaar se arrestasie.

Me. Joubert wou geensins met die Observer praat oor haar noue ontkoming nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button