Local newsNews

Kimme se pad terug dokter toe

'n Piepklein Yorki wat hardhandig by 'n 4x4 bakkie in Bloekomsig uitgegooi is, het wye draaie geloop om weer by haar eienaars, dr. Dewald en Nellie Tromp, uit te kom.

Die drama het begin toe me. Lynette Jacobs oppad was om sake te gaan doen.

Waar ‘n mens indraai na Bloekomsig, het sy gesien hoe ‘n welgeklede vrou uit ‘n wit 4×4 bakkie klim en “iets wat soos ‘n bolletjie wol lyk” op die sypaadjie neersmyt.

Me. Jacobs het nadergestap en dadelik gesien dit is ‘n hondjie.

“Ek het nog vir haar geskree: ‘dit is nie mooi wat jy doen nie!’, maar sy het vinnig teruggespring in die bakkie en weggejaag.”

Sy het die hondjie opgetel en huistoe gevat. Me.Jacobs sê sy het self al ‘n paar honde en kon eenvoudig nie nóg een aanhou nie.

Nadat sy by die Observer vir hulp aangeklop het, is besluit om ‘n berig te doen oor die vrou wat die hondjie uitgegooi het.

Dieselfde tyd het me. Annemarie Zandberg iemand gaan besoek in Bloekomsig.

Sy het die Yorkshire Terriër opgemerk by me. Jacobs en aangebied om na die hondjie te kyk, totdat die regmatige eienaar opgespoor kan word.

Hulle het op Facebook gaan kyk of iemand nie na die hondjie soek nie en die Tromp-familie se boodskappe gesien.

Me. Darelle Loots (wat by die spreekkamers werk) sê die Tromps het gevra sy moet die advertensie op Facebook plaas om hul hondjie, Kimme, te probeer opspoor.

Hulle was baie opgewonde toe hulle by die Observer verneem dat iemand wel ‘n hondjie, wat Kimme se beskrywing pas, gekry het.

Kimme het vanaf hul huis in Leipoldtstraat (Gholfsig) verdwyn. Me. Loots sê omdat sy so klein is, het sy maklik by die hek uitgekom.

Wié die vrou in die 4×4 bakkie is en hoe Kimme by haar uitgekom het, weet niemand nie.

Me. Loots sê dr. Tromp-hulle is tans besig om ‘n huis te bou in Pretoria en het, kort nadat hulle met Kimme herenig is, besluit om die hondjie saam te neem, sodat sy nie weer verdwyn nie.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button