Local newsNews

Inwoners kwaad oor kwads

'n Groep kinders wat Maandag met twee vierwiel motorfietse (kwads) in die veld tussen Kanonkop en Dennesig rondgejaag het, het hul moses teëgekom toe woedende inwoners ingegryp het.

“Hulle sal hulself, of erger nog iemand anders, doodry man!” het ‘n vrou vererg vertel terwyl sy die gekonfiskeerde sleutel van een van die motorfietse rondswaai.

Volgens Dennesig inwoners het die kinders, waarvan die jongste een beweer hy is agt, op en af met die motorfietse gejaag. Nie een van hulle het ‘n valhelm opgehad nie. Hulle het ook voor verkeer in die teerpad ingeswaai.

“Daar gaan hoeveel mense dood van motorfietsongelukke en dan jaag hierdie kinders so rond? Hulle kan duidelik nog nie koerant lees nie,” het nog ‘n bekommerde vrou laat hoor.

Die groep vrouens, wat almal versoek het om anoniem te bly, het die kinders voorgekeer en hul sleutels gevat. ‘n Polisieman wat na die toneel ontbied is, het kwaai “Hamba!” geskree en die groep beveel om die fietse huistoe te stoot. Hy het tot by die huis agter hulle aangery.

Tydens ‘n telefoniese gesprek met die ouma van die kinders, het sy gesê dat hulle veronderstel was om vir haar te wag sodat sy saam met hulle na die veld kon gaan om toesig te hou.

“Wat hulle gedoen het is verkeerd. Hulle was veronderstel om vir my te wag. Ek was net oor Meyersbrug toe die mense bel oor die kinders.”

Sy sê dat dit moeilik is om goed te kry vir die kinders om te doen tydens die vakansie. Hul oupa gaan glo soms oor naweke saam met hulle na die veld om motorfiets te ry.

“Hulle kon net sowel met ‘n trapfiets voor iemand ingery het.”

Die kinders moes die fietse drie blokke opdraende stoot om by die huis te kom. Hul identiteit word nie geopenbaar nie, gehou omdat hulle minderjarig is.

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

  1. Daardie goed word eintlik ‘n “kwaad baaik” genoem. Hulle maak jou so de duiwel in dat jy slange sal kan vang. Ek het gesien dat hul tot VIER op die ding klim en dan roekeloos oor kruisings jaag.Hier by ons was daar ook ‘n volwasse man wat sy motor se sleepwa agter die ding gehak het en dan met s-draaie die dorp op horings geneem het.Hy is gekonfronteer en nou is daar ‘n suurheid hieroor.In alle gevalle word daar nie ‘n valhelm gedra. Mens kry die indruk dat die wetstoepassers ook anderpad kyk. Sou ek egter met ‘n onpadwaardige- en lisensielose motor en sonder bestuurslisensie ry dan skielik word jy raakgesien. Per slot van rekening is hierdie goed onpadwaardig en kan nie geregistreer word en ‘n lisensie bekom word.Gaan asb. veld toe met die goed waar julle alleen kan wees met die lawaai en stof.

Back to top button