Dis nag sonder krag!
Inwoners van Kanonkop in die Seringstraat omgewing was sonder water en krag terwyl Dennesig en die middedorp kragloos was.

Die normale sms boodskappe is nie uitgestuur om inwoners van die beurtkrag te waarsku nie, nee pamflette is oral in die woonareas op OTM masjiene, kennisgewingsborde by kafees en winkels opgeplak, en in ‘n posbus hier en daar gegooi.
Die burgemeesterkomiteelid, Rehana Pilodia, het met haar gereelde aanlyn teenwoordigheid op die Middelburg Observer Facebook-blad aan inwoners probeer verduidelik, maar dit was te min te laat van die munisipaliteit se kant af, meen tientalle inwoners wat skielik hul planne moes aanpas omdat hulle nie die pamflette gesien het nie.
Pilodia het laat weet dat dit beurtkrag is terwyl enkele inwoners sê die pamflette het dit duidelik gestel dat “herstelwerk” gedoen is.
Die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, was Maandag verbaas om te hoor dat die krag so lank af was en het duidelik niks van die onderbreking geweet nie.
Hy het egter beurtkrag van meet af ontken, en later na samesprekings met amptenare laat weet dat die munisipaliteit besig is met opgraderings in OR Tambostraat, waar dienste geskuif word.
“Die nuwe stormwaterlyn wat Sondag ingesit is, kruis ‘n 88kV kraglyn, en is afgesit vir werkers se veiligheid,” sê mnr. Fouché.
Mnr. Floris Erasmus het een van die pamflette afgeneem en aan al sy vriende in die betrokke areas gestuur omdat hy vermoed het min inwoners die pamflet onder oë gehad het.
Kerkdienste is sonder kennisgewing onderbeek en pastoor Renier Pelser sê klank en beeldtoerusting het in die middel van sy kerkdiens skielik stilgeraak en ontwrigting veroorsaak.
Boonop het ‘n waterpyp in ‘n Seringstraat inwoner se oprit gebars en herstelwerk is gekniehalter deur ‘n stormwaterpyp bo die waterpyp, om wat die munisipale werkers moes werk.
Natuurlik het riemtelegramme gou geloop soos dié van Bernadette Maloney wat laat weet het die waterpypwerkers het ‘n kragkabel deurgekap in Seringstraat – dis egter nie so nie.
Aan die anderkant van die muntstuk is daar die inwoners met die vol glase wat dié met die glasies halfvol berispe het omdat hulle altyd kla.
Me. Annelene Muller, is een van dié wie se glasie altyd oorloop, en sy het selfs gewens dat die krag bietjie langer as die 09:00 tot 12:00 venster af bly, sodat sy meer tyd aan haar hekelwerk kon bestee.
Elmarie Marais is nog ‘n inwoner wat meen dat mense nou al bewus moet wees van die kragtekorte en hul leefstyle moet aanpas.
Mnr. Fouché kon nie sê hoekom die normale sms nie uitgestuur is nie en volg die oorsaak op.



