Local newsNews

Dié ‘koos’ nie onder haar bed!

Vroeër jare het die mense die 'koos' onder die bed gehou omdat die longdrop darem baie ver was, maar hierdie pot hou sy uitgestal op haar tafel, want dit was dan "C. Louis Leipoldt se piepiepot!"

Me. Tina Botha (69) vertel trots dat haar ma dié pot gekoop het by ‘n antieke winkel in Viljoenskroon en dit later vir haar gegee het.

Die pot het al die jare perfek behoue gebly (wat sekerlik beteken dat hy nooit gebruik is nie?).

Dit is egter nie die enigste interessante oudhede wat me. Botha geërf het nie. Haar huis lyk soos ‘n antieke winkel.

Langs die koos staan ‘n blou enamel waskan wat nog behoort het aan haar oupa-hulle. “Ons het self nog daarin gewas toe ons kinders was.

Dit is beslis meer as 100 jaar oud.”

Die riempiestoel in die hoek het haar man, Phillip, se oupa met die hand gemaak en hulle is oortuig dat ook dié stoel meer as 100 jaar oud kan wees.

Twee pragstoele wat eens deel was van ‘n eetkamerstel staan uitgestal teen die muur.

Die rugleunings het uitgekerfde blompatrone op en die leersitplekke is nog met fyn spykertjies vasgeslaan.

Sy vryf liefderyk oor ‘n perfek behoue waskan en bypassende beker wat sy ook by haar ma gekry het as jong vrou.

In die vertoonkas is daar alles van die fynste parfuumhouertjies tot piepklein teestelletjies.

Daar is egter één teestel wat dadelik die aandag trek. Dit is papierdun pienk porselein aan die buitekant met perlemoenkleure wat met die lig speel aan die binnekant.

Sy het die teestel as trougeskenk in 1963 gekry en die hele stel is nog behoue.

Daar is sowaar ook ‘n duimgrootte waskannetjie met beker wat sy in 1988 gekoop het met die 150ste herdenking van die Groot Trek.

Nadat sy die geskiedenisdeure toegemaak het, sien ‘n mens die vreemde deurstopper eers raak. Dit lyk dan soos ‘n kanonpunt!

“O ja, ek het dié vreemde kanonpunt in 1966 gekry in ‘n ou huis wat ons in Frankfort gekoop het. Ek gebruik hom maar as ‘n deurstopper.”

Daar is snaakse tekens en syfertjies aan die onderkant gegraffeer (moontlik ‘n ander taal), wat na alle waarskynlikheid uit een van die wêreldoorloë dateer.

• As iemand weet of dit wel ‘n kanonpunt is en die moontlike herkoms daarvan, bel Daleen Naude by die Middelburg Observer by 013 243 1434.

• Persone wat ou staaltjies van die dorp wil vertel of artikels van geskiedkundige waarde het wat hulle vir die gemeenskap wil wys, kan Daleen by die nommer kontak.

Daar kan ook eposse gestuur word na daleen@mobserver.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button