Renostertjies weer doodgemaak
Twee renosterkoeie is deur gierige wildstropers afgemaai vir twee klein stukkies horing wat die afgelope paar maande begin teruggroei het.
Saam met nog ’n renoster wat in die Groblersdal omgewing afgemaai is, staan dit totaal in dié omgewing nou op drie in twee weke!
Mnr. Farouk Moolla sê hy het renosters op sy plaas aangehou “net ter wille van natuurbewaring”, maar ná die voorval het hy besluit om vir die diere se eie veiligheid eerder sy vyf ander renosters ook te verkoop (mnr. Moolla het gevra dat sy wildsplaas nie geïdentifiseer word nie).
Die twee renosterkoeie is verlede Vrydag (16 Mei) doodgeskiet en die stukkies horing wat die afgelope jaar en half begin groei het, afgekap.
Mnr. Moolla sê die diere se horings is juis destyds afgesny deur natuurbewaring vir hul veiligheid, maar die stropers het steeds uit gierigheid gekom vir die sowat drie duim wat die horings die afgelope paar maande gegroei het.
Kort nadat die diere gevind is, het mnr. Moolla en sy werknemers gereël dat die oorblywende vyf renosters na ’n kleiner, veiliger area geskuif word. Die werknemers en veeartse het die diere verdoof en geskuif.
Volgens mnr. Moolla het sy bestuurder, mnr. Louis van Wyk, opgemerk dat daar ’n stuk plastiek vassit onder aan een van die baba-renosters se poot. Die renostertjie is sowat ’n jaar en ’n half oud.
Die renosters het net begin wakker word en mnr. Van Wyk het nader gehardloop om die plastiek onder die renoster se poot uit te trek. Die volgende oomblik het die renostertjie egter omgedraai en op mnr. Van Wyk afgestorm.
Met sy klein horinkie het hy mnr. Van Wyk agter aan sy kuit gegaffel. Van die ander helpers het ’n kabaal opgeskop, waarop die renoster geepad en mnr. Van Wyk na veiligheid geneem kon word. Mnr. Van Wyk is na die Life Midmed Hospitaal geneem, waar die besering met steke geheg en hy vir die nag in die hospitaal gehou is.
“As daar nie drasties iets gedoen word nie, gaan daar binne die volgende paar jaar nie meer één renoster oor wees nie,” het mnr. Moolla omgekrap gesê.




Ek dink hulle moet sulke mense voèlvry verklaar!