Editor's noteLocal newsNews

My beurt

Mens moet jou naaste lief hê soos jouself. Maar joernaliste tel nie onder baie mense se naaste nie. Ons is mos ons eie nasie.

Ons word dikwels gesien as berekende vampiere wat ‘n storie kan uitsuig en dan net die dop op die grond neersmyt, reg vir ons volgende slagoffer.

As ek op ‘n toneel aankom, of dit nou ‘n ongeluk, moord of wat ookal is, maak ek myself reg vir die moontlikheid dat ek soos ‘n sleg hond weggejaag kan word, of dat iemand my fisies gaan aanval. Die moontlikheid bestaan ook altyd in jou agterkop dat iemand wat jou skade wil aandoen, jou in ‘n lokval wil lei.

Ek bid vir kalmte en insig om die situasie wat nou gaan ontvou tot die beste van my vermoë te hanteer. Dan asem ek eenkeer vinnig in en klim uit my kar. Dit voel soms soos ‘n bungi-jump.

As daar een ding is wat ‘n joernalis amper daagliks besef, is dit dat jy nêrens veilig is nie. Dit slaan my altyd tussen die oë as ek agterkom dat ander mense dit nie weet nie, gewoonlik as ek met iemand gesels het wat deur ‘n traumatiese ervaring is. Iemand wat dit vir die eerste keer besef.

Die bewuswording daarvan is nogal ontnugterend. As jy skielik verstaan hoe weerloos en uitgelewer jy is. Hoe maklik dinge kan skeefloop en hoe magteloos jy eintlik is.

Selfs ek, wat in redelike kort intervalle daaraan herinner word, voel soms asof ‘n glas koue water my tref as ek dit opnuut besef.

Ek onthou toe ek die fliek Babel in 2006 gekyk het. Ek het dieselfde gevoel gekry.

Hoe iemand anders se aksies jou kan beïnvloed sonder dat jy enige mag daaroor het.

Gaan kyk dit as jy wil weet waarvan ek praat.

As joernalis kry jy te doen met ander se seer, teleurstelling, woede en haat.

Jy kry ook te doen met passie en meegevoel, al is dit nie so volop soos die woede en die seer nie.

Dit hou jou voete op die grond, en dit hou jou soms in die aande wakker.

Dit laat jou soms magteloos voel.

Maar dit maak ook passie in jou wakker. En dit laat jou besef wat Genade beteken. Genade onbeskryflik groot.

Mens kan nie jou lewe in vrees leef net omdat jy besef hoeveel gevare daar buite is nie.

Jy kan nie jouself en jou geliefdes in watte toedraai net omdat jy weet hoe maklik iets kan skeefloop nie.

En mens kan nie ophou joernalis wees net omdat iemand jou aanval of afbreek of swart verf nie.

Ek wou al telkemale vir myself opgestaan het en net eenkeer sê “Nee! Jy is verkeerd! Dit is nie hoe ek is nie. Ek is ‘n mens met ‘n hart wat bloed pomp en wat hartseer en blydskap en teleurstelling kan voel net soos jy!”

Maar dan herinner my redakteur weer – moenie betrokke raak nie. En mens sit jou gameface op.

Jy laat toe dat ‘n vrou aan jou ruk en stamp. Jy laat toe dat ‘n renosterhandelaar jou in die hof gryp omdat hy geen agting vir landswette en die polisie het nie.

Jy laat toe dat mense jou haat, en jy delete maar die voicemail van ‘n no-number foon af wat vir jou sê jy moet pasop, iemand kom jou seer maak.

Jy draai die ander wang as iemand wat vra dat ons ons naastes moet liefhê jou nie onder hulle naastes tel nie. Want jy is ‘n joernalis.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

One Comment

  1. Jou woorde het my geraak. Die lewe is so deurmekaar en ons land n gemors. Julle beteken baie vir ons. Sonder jul weet ons nie waar is on vriend of vyand nie en jul doen baie vir ons gemeenskap. Ek is nog altyd begroet met n glimlag as ek by die observer kom. Ons as gemeenskap kan ons deel vir jul doen deur vir jul te bid vir jul veiligheid. Julle is belangrik vir ons. Ons waardeer jul toewyding aan ons gemeenskap.

Back to top button