Editor's choiceLocal newsNews

‘n Afslaan soos min…

Anders as John McEnroe se "you can't be serious"-uitbarstings, Andy Roddick se netskudfrustrasies of Maria Sharapova se emosionele gille, het Middelburg se Chrissie Haycock (78) bloot "hoender" gesê as sy 'n fout op die tennisbaan maak.

Tydens een van vele prysuitdelings het die klubbestuur sommer vir haar ‘n nagemaakte kekkelhen toegeken.

Maar tog was daar waarskynlik minder hoenderkrete as wat daar KFC’s in Cowen Ntulistraat is – veral as jy na haar rits prestasies kyk.

Talle Suid-Afrikaanse Kampioenskappe is op haar raketstok, terwyl sy ook internasionale blootstelling in lande soos Corsica en Spanje – waar sy 16de uit 32 spelers eindig – opgedoen het.

Snaaks genoeg het sy eers in 1963 in Bloemfontein begin tennis speel, op die betreklike “hoë” ouderdom van 27.

“Tennis is ‘n moeilike sport en ek het maar op my eie geleer en het my eie unieke styl. Ek onthou destyds in Bloemfontein het die A- en B-spelers nie eens met ons gepraat nie. Ek moes myself toe bewys en daag Schoemanspark se klubsekretaresse uit.”

Natuurlik wen sy die kampioenskap en in 1969 – na hulle verhuis het – wen sy haar eerste Middelburgtitel.

Drie jaar gelede op 75-jarige ouderdom hou sy nog die SA-titel omhoog, maar ‘n heupoperasie beteken dat sy deesdae net sosiaal deelneem: op Maandae, Donderdae en soms Saterdae.

In die meer as 40 jaar op die tennisbaan, moes daar al ‘n hele paar interessante dinge gebeur het.

“Daar is soms probleme,” sê sy met ‘n laggie.

“Sommige spelers kyk nie so mooi wat om hulle aangaan nie, en ander kere kyk jy weer nie reg nie. Ek onthou ook hoe die einste sekretaresse van Schoemanspark begin huil het omdat ek gewen het.”

Dit vat ook soms ‘n rukkie om aan linkshandige spelers gewoond te raak.

“Ek het een keer aangeneem ‘n teenstander is regshandig en die balle het die hele tyd verby my gezoem. Een van die toeskouers skree toe vir my dat die vrou linkshandig is en net daar verander ek my hele spel en wen die kragmeting. Van toe af let ek onmiddellik op of die persoon links of regs is.”

Anders as vandag was die balle destyds wit en die rakette van hout.

“Ek het ook op kleibane begin speel en ek glo die bane moes só gebly het – veral as jy kyk na hoeveel spelers met rugprobleme sukkel.”

Een ding is seker: tennis is Chrissie Haycock se groot sportliefde. En sal dit ooit verander? Seker as die hoenders tande kry…

• Haar man was die tennislegende, wyle Bennie Haycock.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button