Piet Pompies val van Ossewa
Oudtshoorn is miskien die groot voël paradys, maar Middelburg staan voor in die koor met bekendes en stories van bekendes. •Daar was Jay wat laataand aangekeer is na ‘n vertoning op die dorp. •Amore Vittone het op die verhoog flou geword Midhartklop se konsert met Maroelaboom en DJ Ossewa Donderdag ten bate van Wondershoek Kinderhuis, …
Oudtshoorn is miskien die groot voël paradys, maar Middelburg staan voor in die koor met bekendes en stories van bekendes.
•Daar was Jay wat laataand aangekeer is na ‘n vertoning op die dorp.
•Amore Vittone het op die verhoog flou geword
Midhartklop se konsert met Maroelaboom en DJ Ossewa Donderdag ten bate van Wondershoek Kinderhuis, het ‘n wrang smaak in die mond van sommige kaartjiekopers gelaat “nadat Piet Pompies, van DJ Ossewa, sy goed opgepak en geloop het omdat konsertorganiseerder, me. Carin du Plessis, hom nie wou toelaat om ‘n solo optrede te lewer nie”.
“Bog!” sê Carin, volgens haar was Piet Pompies nie deel van die optrede nie, omdat hy einde verlede jaar, DJ Ossewa verlaat het om op sy sololoopbaan te fokus.
“Twee mense het my direk genader en gevra waar’s Piet Pompies, en ek het vir hulle gesê hy is nie meer deel van DJ Ossewa nie,” sê Carin.
Sy het egter beaam dat een van haar helpers ook genader is deur ‘n konsertganger wat beweer het dat “Piet Pompies daar gesien is, maar uit woede omdat hy uit die vertoning gesny is, in die kar gespring en weggejaag het”.
“Piet Pompies was nooit deel van die vertoning nie,” sê Carin, “as hy daar was sou ons hom beslis nié ‘n koue skouer gegee het nie.”
Sy sê dat DJ Ossewa en Maroelaboom om die beurt opgetree het en selfs gedurende die vertoning saam op die verhoog was en die gehoor vermaak het.
Piet het vanjaar sy eerste solo-album uitgebring na nege jaar saam met DJ Ossewa wat in dié tyd 90 albums en drie DVD’s die lig laat sien het.
Om sy inkomste aan te vul verkoop hy ook huise en tree soms op as radio-omroeper en gasheer op gesellighede.
Die aand was ‘n weergalmende sukses en Carin sê beide Maroelaboom en DJ Ossewa “sal op die langtermyn ambassadeurs vir die kinderhuis wees, en die kinders gaan besoek”.
Midhartklop kry die wind van voor en sukkel om sy merk te maak in die Middelburg filantropie arena.
Hul Midhartklop Fees was verlede jaar ‘n reuse flop en uitstallers sê hulle het reuse verliese gely weens die swak opkoms.
Carin het toe onderneem om almal se depositos terug te betaal.
“Ek kies om positief te wees en gaan beslis nie lê nie, the show must go on,” sê Carin wat weer talle planne in die mou voer vir geldinsamelings vir Wondershoek en ander welsynsgevalle.
•Piet Pompies het Maandagmore aan die Observer gesê dat hy nie hier was nie, maar beslis gaan kom kuier.
gerhard@mobserver.co.za



