VIDEO: Besigheidslui: ‘Genoeg is genoeg!’
Besighede in OR Tambostraat waar daar al sedert middel Junie aan die sypaadjies gebou word, is naas die geraas en stof nou keelvol vir die verliese wat gely word weens die bouery.
Parkerings is slegs aan die linkerkant van die straat beskikbaar en voetgangers kan ook nie vryelik om die versperrings beweeg nie en moet feitlik ‘n hele straatblok ver stap, om by die winkels uit te kom.
Die Observer het gaan besoek aflê by talle besighede in dié besige lewensaar van die middedorp en almal is dit eeens, terwyl die munisipaliteit geld spandeer om die straat meer voetgangervriendelik te maak, bly die voetgangers weg en hul beursies ook.
CNA se bestuurder, me. Thembi Malope, sê besigheid ly geweldig onder die konstruksie.
Sy sê daar is geen parkering vir kliënte nie en derhalwe wyk die koopkrag uit na die Mall en ander meer toeganklike besighede.
Me. Mari-Lize Basson, bestuurder van Miladys, sê die klerewinkel is die maand reeds op ‘n verlies van inkomste weens die bouery.
“Ons doen ons somme tans in die minusse,” het sy Maandag vies gesê en bygelas dat “gereelde kliënte van Miladys weier om hulle te ondersteun omdat hulle ver moet parkeer en om lang versperrings moet loop.
Mom’s Dagbreek apteker, mnr. Johan Botha, sê die stof is so ondraaglik, “ons wou al mielies plant”.
Hy sê kliënte het geen parkering nie en dat hulle nou gedwing word om elders, waar APS wagte nie na hulle voertuie kyk nie soos in die Pickadilly sentrum se parkeerarea, moet parkeer.
“Dis ‘n geweldige frustrasie wat ons nou aan rand en sent begin meet,” beaam hy ander besigheidseienaars soos me. Phillipa Soutar, eienaar van Krabo Sleutelmakers, se woorde.
“Ek kan selfs nie eens naby my besigheid parkeer nie, en moet vrou alleen na die besigheid gesluit is, Pickadilly sentrum toe loop waar sekuriteit maar power is,” kla me. Soutar.
Haar besigheid is in die parkeerarea oorkant Nedbank geleë en sy noem dié eens toeganklike parkeerarea nou “‘n ongeluk wat wag om te gebeur, die motoriste is gefrustreerd en breek die reëls om te kan in en uit.”
Sy sê haar inkomste het geval met meer as driekwart laas week alleen.
Mnr. Alex Papadopoulos, eienaar van Fish & Chips en Urban Original Fried Chicken, sê hy het verlede Woensdag nie eens die moeite gedoen om die besighede oop te maak nie, so sleg gaan dit.
“Waar ek normaalweg rondom 20:00 sluit het ek Dinsdag en Donderdag net voor 17:00 toegemaak,” eggo hy die ander klaers se sentimente.
“Dit is net eenvoudig nie haalbaar om oop te maak, die diepbraaiers aan te skakel en te sit en wag vir kliënte nie, dit kos geld,” kla hy.
Tydens ‘n vroeëre onderhoud het die munisipale bestuurder, mnr. Willie Fouché, gesê besighede moet vasbyt “want die verandering van parkerings na visgraat parkerings, gaan meer kliënte na die voetgangervriendelike OR Tambostraat bring”.
Hy kon tydens dié onderhoud verlede maand nie sê hoe lank die bouery sou voortgaan nie, maar sê nou dat die voltooidatum 30 Augustus is.
“Stormwaterpype moes verskuif word, sodat die regterkant van die pad verbreed kan word vir voetgangers, en die linkerkantste sypaadjie vernou kan word vir meer visgraatparkerings,” verduidelik mnr. Fouché.
“Ons vra almal om net nog ‘n rukkie geduldig te wees, om eindelaaste die situasie vir almal, hetsy besighede, motoriste of voetgangers, te verbeter,” het hy gevra.



