Drywer verloor arm in gru-botsing
'n Trokbestuurder is ernstig beseer in 'n gru-botsing met die sleepwa van 'n ander trok.
Mnr. Fanyana Mthembu (51) se regterarm is met die impak van die botsing feitlik heeltemal geamputeer.
Nooddienswerkers het meer as ‘n uur lank gesukkel om die vasgekeerde trokdrywer uit die wrak te bevry.
Die drywer van die ander trok het aan die polisie vertel hy vermoed dat mnr. Mthembu aan die slaap geraak het.
Toe die Ni-Da trok skielik op hom afgepyl het, het hy uitgeswenk om ‘n kop-aan-kop botsing te vermy, waarna die Ni-Da trok met sy agterste sleepwa gebots het.

Nooddienswerkers was erg besorg oor mnr. Mthembu wat naas die geamputeerde arm, bors en inwendige beserings opgedoen het.
Die kajuit was so verfrommel dat brandweermanne gesukkel het om mnr. Mthembu te bevry met lewenskake.
Hy was onderweg na ‘n myn in die omgewing om kole te gaan laai vir die Newcastle vervoermaatskappy.
Kollegas het Maandag gesê sy toestand is bestendig nadat hy Saterdagaand omstreeks 19:00 per helikopter na Milpark Hospitaal gevlieg is vanaf Midmed Hospitaal.
Die bestuurder van die ander trok is nie beseer nie.



